Effektetrusts versus Effekte

Effektetrusts versus Effekte. Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

Vraag:  ‘n Leser, Frank, vra hoe effekte werk en hoe dit in ’n effektetrust werk.  Ek kom uit ander lesers se navrae ook agter dat daar ’n bietjie verwarring is oor die begrip effekte teenoor effektetrusts. Dis twee verskillende goed.  Verduidelik asseblief vir ons die verskil, Connie.

Connie:  ’n Effektetrust, deesdae genoem kollektiewe beleggingskemas, is ’n samevoeging van onderaandele in ’n aantal bateklasse, met inbegrip van onder meer kontant, aandele en eiendom.

Effekte, wat in Engels as bonds bekend staan, is ’n bepaalde belegginginstrument wat in ’n bepaalde effektetrust opgeneem kan wees. Of nie.

Dit hang af van die bepaalde effektetrust se samestelling.

Effekte is beleggings wat ’n vaste inkomste bied, wat ’n rente-inkomste bied en jou geld teruggee aan die einde van die termyn, byvoorbeeld 5, 10 of 20 jaar.

Die presiese werking is baie tegnies en ek bepaal my liewer by die vraag wat ek meen die meeste lesers graag beantwoord wil hê: Moet ek nou in effekte belê?

Vraag:  Wat antwoord jy ons lesers, Connie?

Connie:  My antwoord is ja. Maar lees eers verder.

Effekte word deur die regering en groot maatskappye uitgereik as hulle geld wil leen. En hiervoor betaal hulle jou rente teen ’n koers wat vasgemaak word as jy die effek koop. Op die vervaldatum kry jy jou geld terug.

Die huidige hoë rentekoerse maak effekte nou aanloklik. As jy geld wil leen by die bank, betaal jy die hoë rentekoers. Dit werk net so as jy geld uitleen, want dit is eintlik wat jy doen as jy effekte koop.

Die prys van die koepon (rentekoers) word bepaal deur die heersende rentekoers. Dit is dan ook die bepaler van die rente-inkomste wat jy gedurende die termyn ontvang.

moneyVraag:  Wat dan van risiko?  Hoe werk dit?

Connie:   Alle beleggings, ja, selfs kontant, het ’n mate van risiko en effekte se risiko word beskou as matig. Effekte wat deur die staat uitgereik word, is seker die veiligste. Die regering kan mos geld skep. Hy verhoog eenvoudig belasting as hy agterkom hy kan sy skuld nie betaal nie.

Maatskappye het nie dié “voordeel” nie en dit kan dus gebeur dat hulle die geld nie kan terugbetaal nie, hoewel die kans maar skraal is. Suid-Afrika het een van die bes ontwikkelde effektemarkte ter wêreld en dit word goed gereguleer.

Die renterisiko werk albei kante toe en dit is die enkele groot kenmerk van ’n belegging in effekte. As rentekoerse styg, verminder die kapitaalwaarde van jou instrument. Hoewel jy steeds dieselfde rente kry, kan beleggers in nuwe effekte ’n beter rentekoers kry.

Vraag:  Hoe kan dit anders gestel word?

Connie:  Anders gestel, as rentekoerse styg, daal die waarde van jou belegging.

Maar as rentekoerse daal – en dis die rede vir my antwoord hierbo – sal jou belegging in waarde toeneem omdat die rentekoers wat nuwe effekte betaal, laer is as die koers waarteen jy jou effekte gekoop het.

Effekte is likied en kan dus verhandel word. Jy kan dit dus teen ’n hoër kapitaalwaarde verkoop as waarteen jy dit gekoop het as rentekoerse daal.

Effekte is dus ’n verhandelbare instrument en in die ope beleggingsmark word dit ook verhandel, net soos aandele.

Effekte se rol in ’n effektetrust is dus dieselfde as aandele.

Vraag:  Moet jy direk in effekte belê of deur ’n effektetrust? Watter een sou jy aanbeveel, Connie?

Connie:  Effektetrust, sou ek sê. Bloot omdat kundige mense jou koop-en-verkoopbesluite neem en in ’n effektetrust is jou blootstelling aan effekte deel van ’n meer gediversifiseerde belegging en sit jy nie met al jou eiers in een mandjie nie – soos wat dit moet wees met ’n verstandige belegging.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *