Hou kop bo water met jou finansies – kom verder met jou kruideniersware

deur Ansja Ferreira

 

“Ek is moedeloos,” se *Christine, ʼn werkende ma van twee.  “Ek was by die kruidenierswinkel en het uitgestap met twee sakke wat my R600 gekos het.  En dit gaan my net ʼn dag of twee hou.  Dit lyk elke maand of die pryse styg en die kruideniersware wat ek vir my geld kry al hoe minder word.”

Die omgewingsielkundige, Paco Underhill, beweer in die boek What Women Want: The Science of Women Shopping, dat tot 50% van ons inkopiemandjies vol items is wat ons in die eerste plek nooit beplan het om te koop nie!

Met ‘n bietjie beplanning, kan jy jou kruideniersware uitgawes drasties verminder, en in die proses elke maand meer geld in jou begroting beskikbaar hê.

  • Gaan jou bankstate of aanlynrekening na en werk uit wat is die totale bedrag wat jy die afgelope paar maande aan kos spandeer het. Stel vir jouself ʼn doelstelling om te bespaar en wys met jou aankope te werk te gaan.
  • Jy moet ʼn plan hê voordat jy by die winkel instap. Volgens navorsing deur die Universiteit van Pennsylvania vind ʼn groot mate van hoë impulsaankope plaas by supermarkte met 60 tot 70 persent van die aankope wat nie beplan was nie.  Mense wat ‘n kruidenierslysie het, is die minste geneig om impulsiewe aankope te doen en kan heelwat op hul kruideniersware-rekeninge bespaar.  Stel ‘n lys op en hou daarby!  Jy kan ʼn inkopielysie toepassing gratis op jou foon aflaai.  ʼn Voorbeeld hiervan is Listonic.
  • Vergelyk pryse. Bestudeer weeklikse supermark-en winkels se spesiale aanbiedinge.  Kyk gerus na pamflette en aanlyn.  Koop ook slimmer, besoek meer as een supermark, vergelyk pryse, en koop die winskopies.
  • Beplan jou week se maaltye en bly daarby. Nie net help maaltydbeplanning jou om tred te hou met gesonde eetdoelstellings nie, dit help jou ook om by jou begroting te hou.  As jy presies weet wat jy die week wil kook, en ‘n lys saambring winkel toe van bestanddele wat jy benodig, is jy minder geneig om te veel kos te koop en op te eindig met verkwiste kruideniersware.  Jy gaan ook onnodige uitgawes uitskakel soos gekoopte ontbyte, middagetes en daardie ‘vinnige uitstappies’ na die winkel vir melk en brood om uiteindelik met R750 se aankope daar uit te stap.  Of om drie aande per week wegneemetes te bestel, omdat jy laat by die huis aankom na werk en op die nippertjie nie iets in die huis kry wat jy kan vinnig gereed kry om te eet nie.  Hierdie gedrag kan ʼn groot duik in jou begroting tot gevolg hê.
  • Soek op die internet of in tydskrifte na resepte wat jou sal toelaat om smaaklike etes teen ʼn sakpasprys voor te berei.
  • Moenie gaan inkopies doen wanneer jy honger is nie. Jy het dalk al voorheen hierdie raad gehoor, maar navorsing staaf dit.  Die Universiteit van Minnesota se Carlson School of Management het onlangs die sielkundige effek van ʼn honger gevoel ondersoek en hul bevindings in die vaktydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer.  Deur honger te gaan inkopies doen, eindig byna altyd in impulsaankope.  Hoe hongerder die klant was, hoe meer geld het hy of sy spandeer – 64 persent meer.
  • Koop seisoenaal. As die produkte in die seisoen is, is die aanbod op sy hoogtepunt – wat dit vir boere makliker en goedkoper maak om na u plaaslike winkel te versprei.
  • Beproef die kontantkoevertstelsel. As jy vind dat jy meer spandeer as wat jy wil in die kruidenierswinkel, beveel baie begrotingsgoeroes die koevertstelsel aan.  Aan die begin van die week of maand moet jy die hoeveelheid kontant wat jy beplan om aan kruideniersware te bestee, in die koevert sit en slegs van hierdie kontant na die winkel saamneem.  Geen krediet- of debietkaarte nie.
  • Vervang bestanddele met ekonomiese keuses. Vervang duur of buite-seisoen groente in resepte met die altyd goedkoop wortels of kool.
  • Rek die vleis. In plaas daarvan om hele stukke vleis soos steaks of tjops te bedien, bedien kasserolle, bredies en ander geregte met gekapte, gekrummelde of gesnipperde vleis.  Op die manier kan jy dit rek en meer as  ʼn geurmiddel gebruik as hoofbestandeel.
  • Koop in grootmaat. Verskeie stapelprodukte wat gereeld gebruik kan word, kan in grootmaat gekoop word.  Talle produkte soos pasta, boontjies, rys, tofu, lensies en meel is goedkoper wanneer in grootmaat aangekoop word.
  • Koop minder voorafverpakte maaltye en meer vrugte en groente. Koop produkte sonder naam.  Nie net word baie deur dieselfde handelsnaamondernemings vervaardig nie, net met ‘n ander en eenvoudiger etiket, maar hulle smaak ook basies dieselfde en kos minder!  Koop grootmaat droë vrugte, neute, pretzels en ander gesonde snoephappies.  Pak dit in kleiner sakkies om werk en skool toe te neem.
  • Maak voorsiening vir vinnige etes. Maak dubbel en vries vir daardie aande wat jy nie tyd gaan hê om kos te maak nie en skakel wegneemetes so uit.  As jy ‘n paar “vinnige etes” beskikbaar het, wat jy binne 15 minute gereed kan hê, kan jy baie geld spaar.
  • Begin jou eie groente-en kruietuin. Spinasie, aarbeie, blaarslaai, tamaties, kruie, groenboontjies en groenrissies kan maklik tuis, selfs in potte, gekweek word.  Kinders geniet dit ook om te sien hoe die groente opkom en groei.
  • Maak ʼn draai by ʼn boeremark. Nie alles op ‘n boeremark gaan goedkoper wees nie, maar jy kan dalk ʼn paar winskopies daar vind.
  • Haal byvoorbeeld ook jou vleis die vorige aand uit die vrieskas, sodat dit self kan ontdooi en sal dit nie nodig wees om in ‘n mikrogolfoond te ontdooi nie.  Onthou ook dat vars, rou kos soos slaai en vars vrugte en groente jou minder in elektrisiteit gaan kos, omdat dit nie gaargemaak hoef te word nie.
  • Leer jou kinders om gesond te eet. Volgens kenners is porsiegroottes dikwels drie keer groter as wat dit behoort te wees.  Maak ook een of twee aande ʼn week ʼn vleislose hoofmaaltyd soos macaroni en kaas en jy sal sien hoeveel geld jy so kan spaar.
  • “Moet niks koop wat jy nie werklik nodig het nie. Wanneer jy in grootmaat koop, hou beheer daaroor, bestuur dit wys en indien nodig, sluit toe,” is Connie Bruwer, ʼn geoktrooieerde rekenmeester se raad.

 

 

Hou kop by die winkel:

 

  • Bemarkingskonsultant en skrywer van Brandwashed, Andrew Lindstrom, het ‘n eksperiment uitgevoer waar mense inkopiewaentjies gebruik wat dubbel so groot was as die gewone. Diegene met die groter winkelwaentjies het 40% meer gekoop as dié met die kleineres. Dit is omdat die inkopiewaentjie nou leër lyk, wat beteken dat jy meer geneig is om dit vol te maak met items wat impulsief gekoop word en lekkernye.
  • Los die oorspandeerders by die huis. Indien jy agterkom dat jou kinders of selfs jou lewensmaat die skuldige is om al die items wat nie op jou lys is nie, in jou waentjie te plaas, sal jy dit help om eerder alleen te gaan inkopies doen.
  • Maak seker daardie spesiale aanbieding is wel ʼn winskopie.
  • Onthou dat duurder produkte dikwels ooghoogte geplaas word en gewilde kombinasies (soos aartappelskyfies en salsa) langs mekaar, om kopers aan te moedig om beide te koop. Kyk gerus ook na die boonste en onderste rakke om generiese handelsmerke te vind, wat heelwat goedkoper is en dikwels bykans identies as die duurder handelsmerke is.
  • Professor Ronald E. Milliman’s het in sy studie “Using Background Music to Affect the Behavior of Supermarket Shoppers” bevind dat kruidenierswinkels wat stadige musiek speel, hul verkope met byna 40% verhoog het!

 

Lesers se wenke:

Elmarie Erasmus Fischer se geheim is om nie net minimalisties te werk met alles nie, maar om produkte te rek:

“Ek koop byvoorbeeld goedkoop wassoda en gooi dan 1,35 kg waspoeier by 500gram wassoda….so kom jy met wasgoedpoeier verder. Ek gebruik my teesakkies en hou dit. Later kan ek van die gebruikte teesakkies 2 saamgooi en kry weer ‘n lekker koppie tee uit dit. Al my verlepte vrugte word in ‘n versapper gemeng en dan in ‘n yshouertjie gegooi. Die kinders dink dit is die lekkerste yssies, maar eintlik eet hul gevriesde vrugte. Ek probeer my vleisgeregte rek met kekerertjies of rooibone. Ek kweek my eie kruie.”

Christine:  “Ek koop graag spesiale aanbiedinge waar jy twee koop dan kry jy een item gratis. Mens spaar baie so.”

Annatjie:  “Hier in Durban is daar heelwat winkels wat goed verkoop teen fabriekspryse. Ons het geleer watter is werklik goedkoper. Kyk die koerant se middelblad en koop skoonmaakgoed grootmaat.  Ek betaal byvoorbeeld vir 5 kg seeppoeier dit is net plein en sonder ‘n handelsnaam, maar ruik lekker en was skoon. Ons koop as ons ekstra geld het spesiale aanbiedings en bêre in die koskas.  Meel en rys verpak ons in grootmaat 1 kilogram sakkies en seël dit. Ons soek slaghuise met goeie pryse en koop as ons kan halwe skaap, maalvleis en wors en verpak dan self in ekonomiese pakkies. Ek probeer nie meer kos kook as wat nodig is nie. Ek koop brood as dit goedkoop is en vries. Ek koop ‘n een liter houer jogurt en seël dit in goeie bakkies wat ek skooltoe stuur. Ek maak muffins met piesangs en hawermout vir gesonde en goedkoop versnapperings vir skool. Ek groei my eie seldery en wortels vir my gebaarde drake (bearded dragons). En groei tamaties in 5 liter bottels wat gehang word onder my afdak by die stoep. Hulle kry genoeg water as dit reën. Hondekos koop ek in 40 kg pakke want ek het baie diere en dit werk my goedkoper uit direk van die verskaffer as deur die winkel.

Belinda: “Probeer dubbel koop as daar spesiale aanbiedings is.  Bêre en werk spaarsamig. Dan bou jou voorrade op en jy kan later net spesiale aanbiedings koop. Die geheim is om nie dan meer te gebruik van iets omdat jy baie het nie.’

Jordan Page is ‘n blogger en kenner op die gebied van spaarsamige en ekonomiese bestuur van geld,  kos en gesinsuitgawes.

Sy gee 10 maniere op haar webwerf https://funcheaporfree.com/stretch-a-meal/om ʼn ete te rek:

ʼn Groente bygereg sal nie net jou maaltyd rek nie, maar jy kry ook die gesondheidsvoordele van die groente te eet.  ʼn Ander gesonde opsie is vrugte, veral as jou gesin gedurende die dag nie genoeg daarvan eet nie.  Maak ‘n vrugteslaai of laat elkeen kies watter vrugte hulle met hul aandete wil geniet.

Deur droë of geblikte bone by die ete te voeg voorsien steeds goeie proteïene, maar is baie goedkoper en baie vullend.  Dit werk goed vir taco-vleis, chili, enchiladas, sop en meer.  As jy nie kans sien om bone by jou vleis te voeg nie, maak dit dan as ʼn bygereg.

Pasta is ‘n goeie manier om ‘n maaltyd te rek as jy nie genoeg vleis vir almal het nie.  Dit is goedkoop, vullend en lekker!

Rys is nog ‘n goeie opsie om maaltye te strek.  Dit maak nie saak watter soort rys jy kies nie; dit gaan goed met alles!  As jy taco’s gaan eet, maak dan Mexikaanse rys en voeg dit ook by die tortillas, sodat jy nie soveel vleis nodig het nie.

Fyn, gebakte of gebraaide aartappels is ook ‘n goed om by ‘n bredie of sop te voeg om ʼn maaltyd langer te laat hou en meer te voed.

Taco-slaai, geroosterde hoenderslaai, salmslaai – as jy oorskietvleis oor het, kan jy dit op ‘n slaai eet.

Bedien toepaslike porsiegroottes.  As iemand geneig is om altyd te veel in te skep en dan nie alles kan eet nie omdat hulle versadig is, is dit verkwistend!  Begin aan die begin om almal minder te bedien.  As hulle dan nog honger is nadat hulle die regte hoeveelheid geëet het (nie net duur vleis nie), kan hulle ‘n bietjie meer van als kry.

As jy die maaltyd gerek het, maar dit nog steeds nie heeltemal genoeg is nie, bedien dit dan met brood of rolletjies!

Sop is ‘n goeie manier om ‘n bietjie van alles te neem en dit in ‘n nuwe maaltyd te omskep.  Vleis, groente, rys of pasta, basies alles wat jy byderhand het, kan in ‘n sop gevoeg word!

Eiers is ‘n uitstekende bron van proteïene en ‘n goeie manier om maaltye te rek. Voeg ‘n handvol gekapte ham en spinasie by eiers by, en jy het ‘n omelet.  Maak ‘n quiche met behulp van die lukrake groente en vleis wat jy in jou yskas het.  Neem ‘n bietjie oorskietkors en tortillas om ontbytburrito’s te maak.

*skuilnaam

https://www.medicaldaily.com/hungry-shoppers-spend-more-money-save-your-wallet-fill-your-stomach-322848

https://theconversation.com/the-science-that-makes-us-spend-more-in-supermarkets-and-feel-good-while-we-do-it-23857

https://freakonomics.com/media/Using%20Background%20Music%20to%20Affect%20the%20Behavior%20of%20Supermarket%20Shoppers.pdf

http://knowledge.wharton.upe.

n.edu/wp-content/uploads/2013/09/1357.pdf

https://www.scarymommy.com/how-to-save-money-grocery-shopping/

https://grow.acorns.com/grocery-store-tricks/

7 Psychological Supermarket Tricks and How To Save Money By Beating Them