Wat is Kapitaalwinsbelasting (KWB)?
Belasting op kapitaalwins is ‘n belasting wat betaalbaar is op winste wat realiseer by die beskikking van bates. U is slegs aanspreeklik vir die betaling van belasting op kapitaalwins wanneer u ‘n bate verkoop of oor ‘n bate beskik. Dit is belangrik om daarop te let dat belasting slegs betaalbaar is op die wins gerealiseer en nie die opbrengs van die bate nie. Dit beteken dus dat die bedrag belasbaar bereken sal word op die verskil tussen die opbrengs en die basiskoste van die bate.
Watter bates is uitgesluit van KWB?
Die winste wat gerealiseer word op die volgende tipes bates is uitgesluit van belasting op kapitaalwins:
- Die wins wat u realiseer met die beskikking van u primêre woning tensy die bedrag R2 miljoen oorskry;
- Die winste of verliese wat u realiseer ten opsigte van die volgende persoonlike besittings, byvoorbeeld, motorvoertuie, meubels, versamelaarsitems, ens., maar met die uitsluiting van goue en platinummunte;
- Die opbrengs van uitkeerpolisse of lewenspolisse met die uitsluiting van tweedehandse polisse wat wel onderhewig is aan belasting op kapitaalwins;
- U aftreebeleggings – daar is ‘n moratorium van drie jaar geplaas op die heffing van belasting op kapitaalwins ten opsigte van enkelbedraguitbetalings vanaf ‘n pensioenfonds, voorsorgfonds en bewaringsfonds sowel as uittredingsannuïteitsfondse, terwyl die heffing van belasting op aftreebeleggings ondersoek word;
- Enige vergoeding wat u ontvang ten opsigte van persoonlike beserings of siektes;
- Pryse of wengeld van enige Suid-Afrikaanse spelle soos die Nasionale Lotery;
- Die wins of verlies op enige buitelandse valuta wat u vir persoonlike gebruik verkry het ten opsigte van oorsese reise en wat u omgewissel het na rand omdat dit nie in die buiteland bestee is nie; en
- Die opbrengs van die beskikking oor ‘n kleinbesigheid se bates waar die bates nie R10 miljoen oorskry nie en die opbrengs gebruik sal word vir aftree-doeleindes. Die eienaar van die kleinbesigheid moet ouer as 55 jaar wees en aftree as gevolg van swak gesondheid of ‘n ander gebrek en hy/sy moet vir ‘n tydperk van ten minste vyf jaar ‘n tien persent aandeelhouding in die besigheid gehad het.
- Die uitsluiting is beperk tot R1800 000 gedurende die leeftyd van die belastingpligtige.
Wat is die jaarlikse uitsluiting?
Die eerste R40 000 wat per jaar gerealiseer word op die verkoop van bates sal vrygestel wees van belasting vir die doeleindes van belasting op kapitaalwins. Hierna word verwys as jaarlikse uitsluiting en dit is ook van toepassing op verliese. Met ander woorde indien u ‘n verlies ly van minder as R40 000 sal dit nie vir belasting op kapitaalwins doeleindes in aanmerking geneem word nie. In die jaar waarin ‘n belastingpligtige sterf, geld ‘n jaarlikse uitsluiting van R300 000. Dit beteken dat die boedel van die belastingpligtige oor bates kan beskik sonder dat daar belasting betrokke sal wees, tensy daar ‘n wins van meer as R300 000 is.
Wat is die basiskoste?
Op enige bate wat na 1 Oktober 2001 verkry is, is die basiskoste normaalweg die bedrag wat u bestee het ten opsigte van die verkryging van die bate, tesame met die koste wat direk verband hou met die verkryging van die bate. Dit sluit ook bedrae in wat aangegaan is ten opsigte van enige verbetering van die bate met die voorwaarde dat die verbeterings nog moet bestaan by beskikking van die bate en die koste van die verbeterings nie as uitgawes teen u inkomstebelasting geëis is nie.
Hier volg die voorbeelde van die tipes uitgawes wat deel van die basiskoste kan vorm:
- Die oorspronklike koste van verkryging;
- Oordragkoste, seëlregte, BTW betaal en nie teruggeëis op die bate;
- Advertensiekoste om ‘n koper of verkoper te vind;
- Die koste aangegaan ter verbetering van die bate;
- Die koste aangegaan ten opsigte van die waardasie van die bate vir die doeleindes van die vasstelling van ‘n kapitaalwins of-verlies.
- Die direkte onkoste wat verband hou met die verkryging of skepping van die bate, byvoorbeeld, professionele fooie betaal aan ‘n landmeter, makelaar, konsultant ens., vir dienste gelewer;
- Die onkoste aangegaan vir die daarstelling, onderhoud of verdediging van ‘n regstitel tot of in daardie bate;
- Die koste om daardie bate van die een plek na die ander te verskuif;
- Die koste van die installasie van daardie bate, insluitend die koste van fondasies en ondersteunende strukture;
- Die koste van die bates wat voor 1 Oktober 2001 verkry is, is die koste soos op 1 Oktober 2001.
Wat word bedoel by primêre woning
U primêre woning is die woning wat deur u (of ‘n spesiale trust) besit word en wat uitsluitlik vir private en huishoudelike doeleindes gebruik word. Indien ‘n gedeelte van die woning vir besigheidsdoeleindes benut word, sal hierdie gedeelte nie deel vorm van u primêre woning nie en dus in aanmerking geneem word in die berekening van belasting op kapitaalwins. ‘n Voorbeeld hiervan is die volgende: Veronderstel dat u 10 persent van u woning vir besigheidsdoeleindes aanwend en 10 persent van die uitgawes aangegaan as aftrekking eis ter voortbrenging van inkomste. Sou u die woning verkoop sal slegs 90 persent van die woning kwalifiseer as primêre woning terwyl die 10 persent in aanmerking geneem sal word in die berekening van belasting op kapitaalwins.
Wat gebeur indien u bates aan u gade oordra?
Indien ‘n bate aan u gade oorgedra word, sal u nie aanspreeklik wees vir die betaling van belasting op kapitaalwins nie. Hierdie transaksie word na verwys as ‘n “oorrol” van bates en die kapitaalwins aanspreeklikheid word uitgestel totdat u gade oor die bate beskik. Die basiskoste wat op u van toepassing was word oorgerol na u gade. Dieselfde reëls geld ten opsigte van die oordrag van eiendom as gevolg van ‘n egskeidingsbevel, ‘n donasie van ‘n eiendom en die oordrag van ‘n eiendom aan die erfgenaam van ‘n bestorwe boedel. Indien die beskikking van die eiendom onvrywillig plaasvind by wyse van onteiening, verlies of vernietiging kan die “oorrol” klousule toegepas word mits die bate binne ‘n drie jaar tydperk vervang word.
Wat gebeur as u nie self in woning bly nie?
In die volgende omstandighede sal u woning nog vir ‘n aaneenlopende tydperk van twee jaar as ‘n primêre woning beskou word al woon u nie daar nie:
- Indien u in die proses is om u ou woning te verkoop, ten einde ‘n nuwe woning te bekom;
- Indien u ‘n woning in aanbou het op grond wat u bekom het met die doel om dit te gebruik vir die oprigting van u primêre woning; en indien u primêre woning per ongeluk onbewoonbaar geword het.
Wat is die insluitingskoers?
Individue hoef slegs 40% van die netto kapitaalwins in te sluit by die berekening van hulle belasbare inkomste. Die volle bedrag van die kapitaalwins of -verlies moet in die belastingopgawe verklaar word, aangesien die jaarlikse uitsluiting en insluitingskoers deur SARS in berekening gebring sal word. As gevolg van hierdie insluitingskoers is die effektiewe koers van belasting op kapitaalwins in werklikheid laer as u inkomstebelastingkoers. As u marginale belastingkoers byvoorbeeld 40% is en u tel ‘n kwart van enige kapitaalwins by u belasbare inkomste, is die effektiewe koers van die belasting op kapitaalwins wat u betaal slegs 13,67%.
Hoe word kapitaalwinste en -verliese bereken?
‘n Kapitaalwins is die bedrag waarmee die opbrengs die basiskoste van ‘n bate oorskry. ‘n Kapitaalverlies is die bedrag waarmee die basiskoste van ‘n bate die opbrengs oorskry.
Wat is die basiskoste van bates wat voor 1 Oktober 2001 gehou is?
Belasting op Kapitaalwins word slegs gehef op die gedeelte van die wins wat betrekking het op die tydperk vanaf 1 Oktober 2001. Die volgende drie metodes kan gebruik word in die berekening van die basiskoste:
- Die markwaarde van die bate soos op 1 Oktober 2001 kan gebruik word. Ten einde die markwaarde te bepaal kan verskeie opsies gevolg word. Ten opsigte van ‘n eiendom kan daar byvoorbeeld gebruik gemaak word van die dienste van ‘n gekwalifiseerde waardeerder of ‘n toepaslik opgeleide persoon, of u kan deur middel van advertensies wat geplaas is vir soortgelyke eiendomme ‘n waarde bepaal. U moet egter in gedagte hou dat SARS die geldigheid van die waardasie kan benavraag en ook diskresie toepas om dit te verander. Waardasies moes geskied het voor 30 September 2003 en moes gedoen wees ten opsigte van die waarde soos op 1 Oktober 2001 (waardasiedatum); of
- U kan 20 persent van die opbrengs by beskikking van die bate ag as die basiskoste. Hierdie metode is baie gerieflik as u geen rekords het ten opsigte van die oorspronklike verkryging van die bate nie; of
- U kan die tydtoedelingsmetode gebruik. Bepaal die tydperk vanaf waardasiedatum (1 Oktober 2001) tot en met die datum van beskikking. Trek dit af van die totale tydperk waarin u die bate gehou het. (Vir die doeleindes van die berekening sal ‘n gedeelte van ‘n jaar as ‘n volle jaar beskou word). Vermenigvuldig nou die kapitaalwins met die hoeveelheid jare voor 1 Oktober 2001 en deel die antwoord met die totale hoeveelheid jare wat u die bate gehou het. Let dat dit beperk is tot 30 Januarie.
Hoe om u belasbare kapitaalwinste te bereken
Bepaal of u aanspreeklik is vir die betaling van belasting ten opsigte van kapitaalwins by die beskikking van ‘n bate.
- Bepaal die opbrengs by beskikking van die bate
- Trek die basiskoste van die opbrengs af om die kapitaalwins of -verlies te bereken.
- Bereken die totaal van die kapitaalwinste en -verliese.
- Tel enige verliese wat vanaf die vorige jaar oorgedra is by die huidige jaar se verliese.
- Trek die totaal van al die verliese af van die kapitaalwinste.
- Pas die R40 000 jaarlikse uitsluiting toe.
- Pas die insluitingskoers van 40% (in die geval van individue) toe.
- Die bedrag wat ingesluit moet word by die berekening van u belasting-aanspreeklikheid.
- Deur die toepaslike marginale koers te gebruik kan u u belastingaanspreeklikheid bepaal.
Let wel: Die kapitaalwins of -verlies wat u realiseer moet in die opgawe getoon word voordat die “jaarlikse insluiting” van R40 000 of die “insluitingskoers” van 40% toegepas is aangesien die berekening deur SARS gedoen sal word.