Minimum loon sal SA bevoordeel’ (Deur Dewald van Rensburg –Sake Rapport)

‘n Nasionale minimum loon sal poste in die slag laat bly, al is dit ook hoe laag, maar nuwe navorsing toon die onregstreekse voordele sal meer as vergoed vir dié verliese.  Die staatsrede sal heel waarskynlik die aankondiging van ’n nasionale minimum loon insluit, hoewel samesprekings by Nedlac daaroor tussen Cosatu en sakegroepe blykbaar op ’n dooiepunt uitgeloop het. Navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se sentrum vir korporatiewe strategie en nywerheidsontwikkeling (CSID) het die afgelope week ’n reeks ekonomiese modelle bekend gemaak wat probeer voorspel wat sal gebeur as die nasionale minimum loon op verskillende vlakke ingestel word.Dié modelle is saamgestel deur Applied Development Research Solutions (ADRS), ’n ekonomiese konsultantefirma. Dr. Asghar Adelzadeh van ADRS het die navorsing die afgelope week by Wits bekend gemaak.

In ’n scenario waarin die ekonomie dieselfde bly as nou, lei alle moontlike vlakke van ’n nasionale minimum loon teen 2020 tot laer indiensneming as wat daar sonder dié loon sou wees. Volgens die modelle sal die skade egter baie Klein wees – ongeveer 65 000 poste vyf jaar van nou af.

Die modelle kyk verby die onmiddellike uitwerking van ’n minimum loon, waar sommige werkgewers poste afskaf of minder werkers aanstel.

Dit probeer eerder bepaal wat die onregstreekse uitwerking sal wees as baie ander werkers beter betaal word, meer bestee en minder afhanklik raak van maatskaplike toelaes.  Adelzadeh het gekyk wat die uitwerking van ’n nasionale minimum loon van onderskeidelik R2 250 en R6 000 per maand sal wees.

 

Invloed op werkloosheid

Die hoogste voorgestelde minimum loon, van R6 000 per maand, sal werkloosheid volgens die model teen 2020 tot 25,9% opstoot in plaas van 25% daarsonder.

Die uitwerking van die laagste minimum loon van R2 250 op die werkloosheidskoers is weglaatbaar Klein.

Die hoogste loon, van R6 000 per maand, sal werkloosheid volgens die model teen 2020 tot 25,9% opstoot in plaas van 25% daarsonder.

Die uitwerking van die laagste minimum loon van R2 250 op die werkloosheidskoers is weglaatbaar Klein.

Adelzadeh sê werkverliese sal meestal in die konstruksie-, kleinhandel- en gasvryheidsbedryf sigbaar wees.

 

Veral vervaardiging trek voordeel

Die winste van ’n nasionale minimum loon sluit egter ’n hoër ekonomiese groeikoers in met veral die vervaardiging­sektor wat ’n hupstoot kan kry te danke aan sterker plaaslike vraag.

Die inkomste uit persoonlike belasting sal toeneem, maatskaplike toelaes sal afneem en armoede sal vinniger uitgewis word. Selfs die laagste nasionale minimum loon sal die verwagte ekonomiese groeikoers tot in 2020 met 0,2 persentasiepunt opstoot.  Die dienstesektor sal die hardste deur ’n nasionale minimum loon getref word.

Die vervaardigings- en voedselverwerkingsbedryf en ook die leer- en skoeisel­bedryf kan ook swaarkry as dit moet wegdoen met goedkoop arbeid as die nasionale minimum loon relatief hoog ingestel word.

 

Invloed op ekonomiese groei

Selfs die laagste nasionale minimum loon sal die verwagte ekonomiese groeikoers tot in 2020 met 0,2 persentasiepunt opstoot. Cosatu het die afgelope week gedreig om ’n landwye maatskaplik-ekonomiese protes van stapel te stuur as die oorblywende kwessies oor die nasionale minimum loon nie by Nedlac opgelos word nie.

Cosatu het druk uitgeoefen vir ’n nasionale minimum loon van tussen R4 500 en R6 000 – veel meer as wat die meeste werkers in die ekonomie tans betaal word. Adj.pres. Cyril Ramaphosa het verlede week gesê die samesprekings by Nedlac is “ver gevorder”, behalwe dat daar nog geen ooreenstemming is oor die vlak van die nasionale minimum loon of die mega-nisme waardeur dit vasgestel moet word nie.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *