Rek die rande met ‘n eenvoudiger leefstyl

Dit gaan maar swaar in baie huishoudings, aangesien die lewenskostes so hoog word.  Klein dingetjies kan ‘n groot verskil maak. Deur kreatief te dink, kan jy die kostes in jou huishouding afbring, maar nog steeds lekker leef en pret saam met jou geliefdes hê.Waarop gee mense hul geld uit?  Statistieke Suid-Afrika voer elke 5 jaar ‘n Inkomste en Uitgawes-opname onder Suid-Afrikaners uit.  Die jongste opname (tussen September 2010 en Augustus 2011) het gewys dat 32.0% van alle huishoudelike uitgawes op behuising, water, elektrisiteit, gas en ander brandstowwe bestee was.  12, 8% was op kos en nie-alkoholiese drank/vloeistowwe bestee.  In wese word een uit elke twee rand wat deur Suid-Afrikaanse huishoudings bestee word, op behuisings en voedseluitgawe-items bestee.  Daar word bereken dat vervoeronkoste sowat 17,1% van die totale huishoudelike besteding is en dat daar rofweg een uit elke ses rand op vervoer bestee word.

1,1% van verbruikersbesteding was op alkoholiese drankies en tabak.

Meubels, huishoudelike toerusting en roetine-onderhoud was ten tye van die opname verantwoordelik vir ongeveer 5,1% van die totale huishoudelike besteding.  4,5%  is op klere en skoene bestee, 3,0% op ontspanning en kultuur, 2,8% op kommunikasie en 2,7% op onderwys. Daar is 2,4% op restaurant en hotelle bestee.

‘n Eenvoudiger leefstyl

“Vir baie mense kan dit dalk traumaties wees om oor te skakel na ‘n eenvoudiger leefstyl, maar as mens weet dat daar wêreldwyd oor ’n hierdie onderwerp gedink en geskryf word, is dit dalk iets om weer oor te dink en eintlik opgewonde oor te raak, sê Connie Bruwer, ‘n geoktrooieerde rekenmeester.

Daar is ’n paar goed wat gedoen kan word, sê Connie:

  • Koop ’n kleiner huis. Dit is duur om ’n groot huis en ’n groot tuin in stand te hou en om so ’n huis te verwarm.
  • Ry ’n goedkoper motor, want ’n goedkoper maar betroubare motor is gewoonlik ligter op brandstof.Deesdae het die meeste motors, selfs met ’n enjin van 1600 cc, baie luukshede in en hoef jy dus nie te voel jy is slegter daaraan toe as jy ’n goedkoper motor ry nie.Baie mense is bereid om presies dit te doen as so ’n opoffering beteken dat jy meer gereeld gholf kan speel of meer met vakansie kan gaan.
  • Laat staan die duur TV-diens. Daar is goedkoper alternatiewe wat ook jou gunstelingprogramme aanbied.
  • Rente. Knip die kredietkaart middeldeur of sorg dat jy dit elke maand ten volle aflos.
  • Betaal jou kar in drie jaar af. Betaal ekstra geld tot jou beskikking op jou huis af.Jy kan sodoende in ’n dekade of wat honderdduisende rande aan rente spaar.
  • Moet niks koop wat jy nie werklik nodig het nie.  Koop vir jou kinders ‘n eenvoudige selfoon sonder al die truuks, kameras en bykomstighede.
  • As jy al dié dinge doen, kan jy dalk ’n eenvoudiger werk “bekostig”.’n Werk wat dalk minder stres tot gevolg het en ook meer tyd bied om te gaan stap of draf of gholf te speel – iets wat jou lewenstyl kan verbeter sonder dat dit jou ’n fortuin hoef te kos.
  • Moenie skuld maak nie. Dit maak dat jy later nog harder moet werk net om die skuld terug te betaal en jy kan dus nie die belangrike goed in jou lewe geniet nie.

As jy so ’n eenvoudiger lewenstyl kan begin implementeer, gaan dit dalk beteken dat jy meer oor het om aan ander wat minder bevoorreg is te gee.

En as jou stres minder is, gaan jy in elk geval langer, gelukkiger en gesonder leef, sê Connie.

Nog wenke:

Vervoer:

Saamryklubs vir skoolkinders en werkende mense kan baie geld spaar.

Wanneer jy ‘n motor aankoop, maak seker dat die voertuig lig op petrol/diesel is.

Beplan jou roete vooraf en moenie onnodige draaie ry nie.

Mooier vir goedkoper

Koop grimering wanneer daar spesiale aanbiedings is.

Gebruik jou produkte klaar.  Jy hoef eers weer te koop wanneer als amper klaar gebruik is.

Jy het nie al daardie duur sjampoes en opknappers nodig wat by die salon verkoop word nie, jy kan salongehalte produkte aankoop vir heelwat goedkoper by jou supermark-of  skoonheids-en gesondheidshandelaar. (soos Clicks of Dischem)

Span saam met jou vriendinne of susters en hou ‘n pamperlangpartytjie.  Doen mekaar se naels, hare, wenkbroue en aromaterapie.  Ruil idees en skoonheidswenke uit.

Leer om jou eie manikuur en pedikuur te doen.

Hou die koerante dop vir spesiale aanbiedinge by haarkappers en skoonheidsalonne.

Belê in kwaliteit dienste by haarkappers en skoonheidssalonne.  Dan hoef jy minder terug te gaan en is daar ook minder instandhoudingskoste.  Doen jou huiswerk en vind uit waar jy goeie kwaliteit teen billike tariewe kan kry.  Onthou ook dat die duurste nie noodwendig altyd die beste is nie.

Moenie duur foute maak nie.  As jy jou hare dalk self probeer kleur het en die kleur is nie wat jy verwag het nie, kan dit jou honderde en selfs duisende rande kos om dit professioneel te laat regstel.

Sekuriteit:

Sluit by jou buurtwag aan.

Wees versigtig met internet transaksies en loop lig vir slenters

Pas jou bankkaarte, identiteitsboekie en selfoon mooi op.

Uiteet:

Benut die “eet soveel as jy kan” aande of spesiale aanbiedinge of twee vir die prys van een aanbiedinge by restaurante.

Ontbyt is ook goedkoper as aandete, wat die duurste ete van die dag is.

Onthou alkohol is duur en kanekstra rande by jou rekening voeg.  Hou matigheid voor oëwanneer jy uiteet, anders kan jy dalk ‘n baie groot rekening kry.

Troeteldiere

Kies die regte troeteldier.  Onthou as jy ‘n klein hondjie of katjie kry, moet jy begroot vir inentings, ontwurming en veaartsbesoeke.  Sommige diere met langer hare kos jou dalk ook meer as hul hondesalon toe gestuur word.  Party diere is ook meer geneig om sekere siektes te kry, byvoorbeeld sekere honderasse is geneig om heupprobleme te kry.  Maak gebruik van die internet en vra ook kenners soos veeartse en ander dierekenners soos telers om vooraf inligting hieroor te bekom.

Maak vergelykings en sommetjies

Vergelyk jou opsies by motor-en huishoudelike versekering, lewensversekering, mediese fonds, gimnasiumlidmaatskappe, selfoonkontrakte, huis-en tuinskoonmaakdienste.  Deur die beste opsie in elke geval te kies kan jy baie geld spaar. Kanselleer alles wat jy nie gebruik nie.  Wat help ‘n vakansieklub, lidmaatskap aan klubs en verenigings of ‘n gimnasiumkontrak jou as jy dit nooit gebruik nie?

Herstelwerk

Spaar op herstelwerk – Leer om dinge self te doen.  (Herstelwerk, naaldwerk, knope aanwerk, leer om hierdie dinge self te doen).  Baie jongmense verlaat die huis sonder dat hulle die basiese vaardighede het om alleen reg te kom.  Leer jou kinders om te kook, leer jou seun om knope aan te werk en basiese herstelwerk soos some insit met ‘n naald en garing te doen.  Pa kan sy dogter leer om ‘n pap wiel om te ruil.  Die kinders gaan dalk aanvanklik nie baie van hierdie idee hou nie, maar eendag wanneer jou kind alleen bly, gaan hulle baie bly wees oor die tyd wat jy geneem het om hulle hierdie vaardighede aan te leer.

Maak gebruik van alles wat gratis is

“Die beste dinge in die lewe is gratis”.  Maak ‘n lysie van al die dinge in jou lewe wat gratis is en goed is.  Voorbeelde is: vriende, die natuur, jou kinders en jou eie gesondheid.

Skep ‘n addisionele inkomste

Ons almal kan voordeel trek uit ‘n ekstra inkomste.Verskeie opsies is beskikbaar soos byvoorbeeld om na ure of op Saterdae ‘n ekstra inkomste te verdien, deur byvoorbeeld om skoonheidsprodukte te verkoop, tuisgebak of ‘n tuisnywerheid, juweliersware of ander kunsprodukte te maak en op kunsmarkte te verkoop.  Ekstra klasse vir kinders kan gegee word, byvoorbeeld in Engels of Wiskunde op Saterdae.  Tikwerk, vertaalwerk of proeflees vir studente en die opstel van CV’s is nog ‘n opsie.  Doen jou navorsing vooraf en onthou dat deursettingsvermoë en selfdissipline belangrik is as jy ‘n sukses hiervan wil maak.

Idees vir bekostigbare gesinsvermaak

Maak dit eerstens lekker en prettig om by die huis te bly eerder as om uit te gaan om jouself te gaan geniet.  Deur by die huis te bly, spaar jy petrol en geld vir uiteet.  Geniet jou huis en maak dit mooi en gesellig.  Op hierdie wyse sal jy en jou kinders by die huis wil bly in jul gesellige en knus huis.

Fliekkaartjies vir ‘n hele gesin tesame met die springmielies, koeldrank en lekkers kan jou ‘n paar honderd rand uit die sak jaag.  Maak jou eie springmielies en neem DVD’s uit vir die gesin.  As jy ‘n DSTV dekodeerder het, is BoxOffice ook ‘n opsie en kan van die nuwe rolprente gekyk word teen ‘n goedkoop tarief .

Verveling kan lei tot onnodige besteding.  Stokperdjies kan vol wassenes en kinders besig hou en hoef nie ‘n plaas se prys te kos nie.  Tuinmaak kan ook baie vervullend wees.

Besoek ‘n plaas.Kyk uit vir geleenthede waar jy jou kinders kan neem op ‘n uitstappie na ’n plaas of ‘n wildplaas.  Kinders geniet aktiwiteite soos perdry, leer om koeie te melk of diere te help voer.

Kamp uit in die agterplaas.  Maak die dag spesiaal deur jou kamptoerus- ting soos ‘n tent, lanterns en slap sakke te gebruik, ‘n kampvuur te maak en kampkos voor te berei.

Besoek ‘n museum, uitstalling, danvertoning of kultuuraktiwiteit.  Hou plaaslike koerante dop vir meer inligting hieroor en kies dié wat goedkoop ingangsfooie vra.

Belê in ‘n goeie resepboek, ruil resepte uit met jou vriendinne of soek interessante resepte op die internet.  Leer om interessante disse soos sushi, gekrummelde braaihoender en disse wat jou gesin graag in restaurante eet, self te maak.  Dek ‘n mooi tafel en geniet ‘n restaurant-ete in jou eie huis.  Jou kinders kan beurte maak om kelner te speel.

Bespaar in en om die huis:

Bestuur jou water- en elektrisiteitsuitgawes.  Koopkrag kan jou help om jou kragbesteding te bestuur.  Haal byvoorbeeld ook jou vleis die vorige aand uit die vrieskas, sodat dit self kan ontdooi en sal jy dit nie nodig wees om in mikrogolfoond te ontdooi nie.  Onthou ook dat vars, rou kos soos slaai en vars vrugte en groente jou minder in elektrisiteit gaan kos, omdat dit nie gaargemaak hoef te word nie.   Probeer waar moontlik minder krag en water te gebruik. Elke druppel water wat mors, kos geld.  Storte gebruik minder water as ‘n bad.   Maak druppende en stukkende krane reg.  Jy kan baie water so spaar.  Leer jou kinders om water te spaar en krane deeglik toe te maak.  Skakel onnodige ligte en elektriese toestelle af.  Kragbesparende gloeilampe kan ook help met besparing.  Dit is nie nodig dat al die televisies in die huis op een slag aan is nie.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *