Aandele vs Effektetrusts.

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad rakende die belangrike onderwerp.

 

Vraag:  ‘n Kliënt skryf: “Ek kan ’n klein bedrag per maand aan aandele afstaan. Al die finansiële adviseurs wat ek kontak, is baie traag om te sê watter makelaar ek moet gebruik. Almal stel voor dat ek geld in ’n effektetrust plaas. Ek wil egter bietjie meer aggressief te werk gaan en het tans geld daarvoor.”  Connie, watter raad het jy vir hom?

Connie:  :  Ek kan jou vertel van ’n direkte aandeleportefeulje, maar die “klein bedrag” waarna jy verwys, pla my. Dit is te betwyfel of ’n aandelemakelaar daarin sal belangstel om klein bedrae te belê. Gewoonlik word aandele in bondels van 100 gekoop en verkoop. Dit is ’n duur manier vir ’n klein belegger om in aandele te begin belê.

As jy genoeg vertroue in jou kennis van die aandelemark het, of net vir die lekker met klein bedrae wil spekuleer, kan jy deur een van ’n aantal internet-handelaars belê.

As jy vriende het wat saam met jou die aandelemark wil betree, kan julle selfs oorweeg om ’n klub te stig. Sanlam se iClub is ’n voorbeeld en kan ’n bietjie pret aan jou geldsake verskaf.  Ek kan verstaan dat die makelaars jou liewer ’n effektetrust-belegging wil aanbied. Min van hulle kan vir jou ’n direkte aandelebelegging bied en daarom sal hulle nie geld maak uit jou nie. Dis bietjie sinies, maar dis waar.

 

Vraag:  Watter ander punte wil jy graag aanraak?

Connie:  The other point I want to make is on the issue of “little more aggressive” investing. Ek vind dat baie lesers nie na effektetrusts kyk as hulle “werklik” goeie groei (lees aggressiewe groei) soek nie.

Niks is verder van die waarheid nie. Effektetrusts, of kollektiewe beleggingskemas, soos dit deesdae bekend staan, bied jou juis beleggingskeuses en jy kan kies tussen effektetrustfondse wat wissel van baie konserwatief tot matig tot uiters aggressief.

 

Vraag:  Wat is die groot verskil?

Connie:  Die groot verskil en dit kan bepalend wees, is dat jy in ’n effektetrustfonds nie al jou eiers in een mandjie plaas nie.   Diversifikasie is een van die groot vereistes vir ’n sinvolle en verantwoordelike belegging. Om in ’n direkte aandeleportefeulje noemenswaardige risikoverspreiding te verseker, moet jy in ’n klomp verskillende aandele belê, selfs in buitelandse maatskappye.

Met die soms hoë prys van ’n enkele aandeel, die aantal wat jy moet koop en die verskeidenheid om diversifikasie te kry, praat ons van groot geld.

 

Vraag:  Wat kry jy met ‘n effektetrustfonds?

Connie:  Met ’n effektetrustfonds kry jy presies dit teen ’n laer prys, want jy koop nie die volle aandeel nie, maar ’n onderaandeel van ’n aantal aandele – dus stukkies van ’n paar aandele. Jy deel in die markbeweging van elkeen van die aandele, maar beperk tot jou stukkie.

As ons Allan Gray se Gebalanseerde Fonds as voorbeeld neem, sien ons hy hou sowat 57% in Suid-Afrikaanse aandele, met bekende en gesogte aandele soos SABMiller, Remgro, MTN en Richemont sterk verteenwoordig.

 

Vraag:  Het hierdie fonds ook buitelandse aandele?

Connie:  Hierdie fonds het ook buitelandse aandele en ’n deel is in kontantbates wat die risikoverspreiding nog beter maak. Ander batebestuurders het soortgelyke fondse. Jy moet rondkyk en besluit waarvan jy hou.

 

As jy werklik baie aggressief voel, is daar effektetrusts wat net in aandele belê, maar dan het jy nie die risikobeperkende invloed van die meer gematigde bateklasse nie. Jy het darem nog die verspreiding van jou belegging in meer aandele. En jy het die voordeel dat kundige batebestuurders dit vir jou kies.