Aftrede – is dit nog moontlik?
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad rakende aftreebeplanning
Vraag: Baie mense aan die vooraand van aftrede staan voor die kwelvraag of hulle wel nou sal kan aftree, gegewe die huidige negatiewe markomstandighede. Wat is jou antwoord op hierdie vraag, Connie?
Connie: Die antwoord op dié vraag hou glad nie verband met die beweging van markte die afgelope jaar nie. Dit word hoofsaaklik bepaal deur die spaarpatroon in jou werklewe en tweedens deur die lewenspeil wat jy ná aftrede wil handhaaf.
Dus speel aftreebeplanning ’n belangrike rol.
Mnr. Kobus Sadie van Verso Investment Services sê ’n kontantvloeimodel gee ’n duidelike aanduiding of iemand kan aftree en met watter gemak.
Vraag: Wat kan aanvanklike aftreebeplanning omvergooi?
Connie: ’n Skielike verandering in werkomstandighede wat lei tot vroeë aftrede kan die aanvanklike beplanning omvergooi. So byvoorbeeld moet ’n luisteraar wat 57 jaar oud is, einde vanjaar vroeg aftree ná 20 jaar diens. Die waarde van die vastebydraefonds het weens die daling in die markte met ’n paar honderdduisend rand gekrimp. En skielik lyk die plan om einde vanjaar af te tree nie so voordelig nie.
Mnr. Johan Strydom, welvaartbeplanner by Citadel, sê ’n mens hoef nie die tydsberekening van aftrede te bepaal na gelang van die stand van die markte nie. Enige annuïteit wat hy nou koop, koop hy teen dieselfde vlak as waarop hy sy pensioengeld aan die markte onttrek. Die belangrikste is om nou ’n behoorlike raamwerk op te stel, waarbinne toekomstige beleggingsbesluite geneem kan word.
Vraag: Watter belangrike vrae moet mense in dié posisie vra?
Connie: Belangrike vrae wat mense in dié posisie moet vra, is of hulle enigsins kontant moet onttrek en indien wel is dit wys om in iets soos eiendom te belê?
Ook moet in gedagte gehou word dat mense ál hoe langer lewe. Gegewe die langer lewensverwagting is dit moontlik om wel al op 57 jaar af te tree? Indien iemand nog elders ’n inkomste kan verdien, is dit ook ’n moontlikheid om die pensioengeld na ’n bewaringsfonds oor te dra.
Vraag: In die beplanning vir aftrede, waarvoor moet nog voorsiening gemaak word?
Connie: In die beplanning vir aftrede moet voorsiening gemaak word vir ’n noodfonds en ander kapitaaluitgawes (soos die aankoop van motors) gedurende aftrede.
Sou twee derdes van die pensioengeld in ’n lewensannuïteit belê word, is die onttrekkings beperk tot tussen 2,5% en 17,5% per jaar en die inkomste is ten volle belasbaar.
Die onttrekkings voorsien die inkomste. Ad hoc-onttrekkings kan nie gedoen word nie. As ’n derde in kontant onttrek word by aftrede sal dit ook voorsiening moet maak vir hierdie behoeftes en dit sal dalk nie raadsaam wees om dit vas te maak in enige belegging, ook eiendom, nie.
Daarby word die bedrag wat in kontant geneem word belas. Die eerste R550 000 is belastingvry, met die volgende R220 000 belasbaar teen 18%. Die daaropvolgende R385 000 word belas teen 27% en die restant sal teen 36% belas word.
Die geld wat in kontant geneem word, kan help om die onttrekking uit die lewensannuïteit so laag moontlik tot aftree-ouderdom te hou om inkomstebelasting tot die minimum te beperk.