Belangrike aspekte rakende boedels.
Connie Bruwer van PC Bruwer en vennote gee raad oor die belangrike aspek.
Vraag: Ek het onlangs by iemand by ‘n groot trustmaatskappy gehoor dat volgens ‘n kitspeiling wat hy onlangs gedoen het, byna 30% van substansiële boedels en testamente ‘n kontanttekort het.
Connie: Baie mense koop na beplanning deur ‘n raadgewer ‘n lewenspolis juis om werk te maak van die kontanttekort wat uitgewys word. Dit is heeltemal korrek, want lewensversekering is en bly die goedkoopste manier om geld beskikbaar te stel. Maar dan gaan doen baie mense iets dom.
Vraag: Wat is dit, Connie?
Connie: Die polis word begunstig, meestal om te bespaar op eksekuteurskoste. ‘n Polis wat regstreeks aan ‘n begunstigde uitbetaal word, word nie in berekening gebring by die berekening van die eksekuteurstarief nie omdat dit nie deur jou boedel vloei nie.
Vraag: Hoe word eksekuteurskoste bereken?
Connie: Eksekuteurskoste (3,5%) word bereken op die brutowaarde van die boedel. Nou is die kontanttekort nie opgelos deur die koop van die polis nie.
Vraag: Kan jy dalk vir ons praktiese voorbeelde gee sodat ons dit beter kan verstaan?
Connie: Ek gaan sommer twee voorbeelde gee om dit te verduidelik. ‘n Man het alles aan sy vrou bemaak. Die begunstigde lewenspolis betaal regstreeks aan die vrou uit en die geld vloei nie deur die boedel nie. Die vrou ontvang die geld uit die polis en wyslik gaan belê sy daardie geld vas. Intussen neem dit die eksekuteur ‘n maand of twee, drie voordat hy alle besonderhede ingewin het vir die afhandeling van die boedel. Dit sluit in besonderhede van skuld in die boedel. Maar toe is daar niks kontant in die boedel om daardie skuld mee te vereffen nie.
Vraag: Watter keuses het daardie vrou dan?
Connie: Nou het daardie vrou twee keuses, of sy gee ‘n deel van daardie polisopbrengs op sodat die skuldeisers betaal kan word of sy moet die huis verkoop om geld te kry om dit te doen. Omdat die geld intussen vas belê is, sal die vrou se huis onder haar uit verkoop word.
Vraag: Wat is die ander voorbeeld wat jy vir ons kan gee?
Connie: ‘n Jong man met ‘n goeie inkomste koop vir hom ‘n woonstel en ‘n taamlik duur motor op skuld. Maar op die een of ander wyse het hy die skuld aangegaan sonder om enige sekerheid deur ‘n polis te bied. Toe sterf hy. Sy testament lees dat sy lewensmaat die motor en die woonstel moet erf. Kort voor lank sit die lewensmaat op straat omdat die bank sowel die motor as die woonstel teruggeneem het. Daar was nie kontant in die boedel om die skuld af te los nie en dit het die eksekuteur geen keuse gelaat om anders op te tree nie.
Vraag: Hoe kan ‘n mens so ‘n fiasko voorkom?
Connie: As jy beplanning laat doen deur ‘n kundige sal hy of sy jou daarop wys as daar enige kontanttekort in die boedel is. Maak seker dat jy werk maak van hierdie tekort en wees dan versigtig om nie goedsmoeds die polis – in gevalle waar ‘n polis gebruik word – te begunstig net om op die eksekuteurstarief te bespaar nie. Sorg dat alle skuldverpligtinge asook die koste van jou sterfte, soos begrafniskoste, eksekuteurstariewe en dies meer, uit die beskikbare kontant gedek kan word.
Vraag: Hier is ook die bemaking van kontant aan minderjarige erfgename ter sprake.
Connie: ‘n Mens kry dit soms by gebroke huwelike dat die man nie geld vir sy kinders aan sy eksvrou wil toevertrou nie en dit dan aan die kinders self bemaak. Besef dat die geld deur ‘n voog beheer gaan word, of dit kan selfs in die meester van die hof se voogdyfonds beland.
Vraag: Wat is die dan die beste opsie om voorsiening te maak vir jou kinders in jou testament?
Connie: Dit is beter om deur jou testament ‘n trust te skep wat die kind se versorging sal waarneem totdat hy of sy mondig is, waarna die trust kan ontbind en die res van die geld aan hom of haar uitbetaal.
Vraag: Om af te sluit, watter ander raad kan jy vir ons lesers gee met die beplanning van hul boedels.
Connie: In hul finansiële beplanning moet lesers die volledige gevolge van hul dood verstaan en nie goedsmoeds aanstellings doen en instruksies gee wat hul naasbestaandes later nadelig kan raak nie. Baie trustmaatskappye is deesdae bereid om beredderingskoste met jou te beding terwyl jy lewe. Doen dit as deel van jou beplanning, want dan het jy nog beheer.