Belasting ‘n onderwerp wat altyd ter sprake kom. 

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

 

Vraag:  Connie, die een onderwerp wat altyd ter sprake kom as jy met kliënte gesels oor klein sake, hetsy dit beginners is of “ou hande”, is belasting.

Connie:  Belasting is ’n kwessie van begroting. Indien jy reg beplan, sal jy verbaas wees hoe gemaklik jou lewe verloop.

Ek het êrens ’n stuk navorsing gelees wat daarop dui dat mense wat verneuk met hul belasting, sonder dat hulle dit besef, skoon siek raak.   Siek en minder produktief. En minder suksesvol in hul ondernemings.

 

Vraag:  Wat moet jy dus doen?

Connie:  Sorg dus uit die staanspoor dat jou sake met Jan Taks in orde is. Die wet vereis dat jy binne 60 dae nadat jy ’n onderneming begin het, by die SAID as belastingbetaler registreer.

Indien jy jou sake as ’n maatskappy bedryf, sal die registrateur van maatskappye die SAID hieroor inlig. Die plig rus egter steeds op jou om seker te maak dit is gedoen. As jy ’n alleeneienaar is of in ’n vennootskap betrokke is, moet jy self hiervoor sorg.

Afhangend van die soort onderneming kan jy ook verplig wees om vir sekere ander soorte belasting afsonderlik te registreer. Jou naaste SAID-kantoor sal jou hieroor kan inlig.

 

Vraag:  Wat beteken dit om as ‘n voorlopige belastingbetaler geregistreer te wees?

Connie:  Omdat jy as sake-eienaar nie ’n salaris verdien waarvan belastings gereeld afgetrek word nie, sal jy as voorlopige belastingbetaler moet registreer.  Dit beteken eintlik maar net dat jy jou belasting twee keer per jaar vooruit betaal op grond van verwagte inkomste.

Dit is ook belangrik vir ’n kleinsake-eienaar om te bepaal wat sy geldelike posisie is en dan die struktuur te skep wat vir hom of haar die voordeligste is.

 

Vraag:  Hoe word ‘n alleeneienaar belas?

Connie:  As jy ’n alleeneienaar is (of in ’n vennootskap) word jy as ’n individu belas op alle inkomste. Die belangrikste om hier in ag te neem is dat jy eers bokant R95750 belas word en dat jy ná jou belasting uitgewerk is ook kwalifiseer vir die primêre korting. Dit beloop tans R17235 (vir diegene onder 65 jaar). Jou grenskoers wissel as individu tussen 18% en 45%.

Vraag:  Hoe kan jy aftrekkings eis?

Connie:  Wat aftrekkings betref, kan jy dieselfde aftrekkings eis as die maatskappy of BK. Die enigste vereiste is dat dit uitgawes is wat betrekking het op inkomste wat verdien is. Dit is natuurlik algemeen gesproke ook heelwat goedkoper om as alleeneienaar sake te doen.

 

Vraag:  Hoe word belasting deur maatskappye en BK’s betaal?

Connie:  Maatskappye en BK’s betaal belasting teen 27%, wat heelwat minder is as die boonste grenskoers vir individue. As die inkomste groot genoeg is, is dit ook makliker om jou inkomste aan te pas, byvoorbeeld deur ’n deel in salaris te neem, sodat jy daarop belas word as individu en ’n deel as dividend te neem wat belas word (20%) in die BK of maatskappy en belastingvry aan jou uitbetaal word.

Indien jy kwalifiseer as ’n kleinsakekorporasie het jy sekerlik die beste van twee wêrelde. Dan is die eerste R95750, soos in die geval van ’n individu, belastingvry. Daarna betaal jy tot op R365 000 net 7% belasting. Daarna tot op R550 000 betaal jy 21% belasting en eers daarna word die gewone maatskappy-belasting van 28% gehef.

 

Vraag:  Hoe kan jy kwalifiseer as kleinsakekorporasie?

Connie:  Om te kwalifiseer as kleinsakekorporasie moet jou bruto inkomste minder wees as R20 miljoen. Ander vereistes sluit in dat alle aandeelhouers natuurlike persone moet wees en die aandeelhouers nie aandele in ’n ander private maatskappy mag besit nie.

Dit is ook belangrik dat ondernemings wat beskou word as persoonlike diensmaatskappye nie hierdie voordele het nie en belas word teen 28% en dat die meeste aftrekkings ook nie sal geld nie.

Belasting is natuurlik nie die enigste faktor wat in ag geneem moet word by die besluit oor die sakevorm waarin jy jou onderneming gaan bedryf nie. Dit maak egter sin om dit met jou rekenmeester te bespreek. ’n Mens wil tog nie meer afstaan as wat jy moet nie.