Beleggingskemas.
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Ons word die laaste paar weke weer gekonfronteer met beleggingskemas wat baie aantreklik lyk. Mense val daarvoor. En dan kom die vraag by my op watter mense daarvoor val.
Connie: Ek dink daar is twee soorte groepe. Aan die een kant is daar diegene wat nie nee kan sê vir die geleentheid om ‘n ekstra paar persentasiepunte uit ‘n belegging te verdien nie. En dan is daar die groep vir wie hierdie ekstra opbrengste amper noodsaaklik is vir oorlewing. Dit is mense wat eenvoudig te min kapitaal het waaruit hulle genoeg opbrengs kan verdien om ‘n bestaan mee te maak. Dit is dan gewoonlik ouer mense. Hulle is ook so goedgelowig. As ek by hulle kom sal hulle vir my sê die persoon wat hierdie beleggingsgeleentheid aan hulle voorgestel het was tog so ‘n goeie man of vrou. Hoeveel keer het ek nie gehoor dit kon net sowel hul seun of dogter gewees het. Hy of sy lyk dan so betroubaar. En dalk is hulle. Dalk weet hulle self nie hulle is besig om ‘n skema te verkoop nie. Of is ek nou weer heeltemal te naïef?
Vraag: Hoe kan iemand wat hom of haar as ‘n finansiële raadgewer uitgee nie die produk ken nie? Of net vir hulself afvra hoe die tipe opbrengste wat deur die promotors van die skema betaal word, behaal word nie? En ai, die kommissie is dan so aantreklik. Kom ons dink bietjie oor die aard van die skemas. Dit is of ‘n belegging in die een of ander voorkeuraandeel wat iets met ‘n oorsese belegging of edelmetale of moderne afgeleide finansiële instrumente te doen het.
Connie: Die versigtigste van die skemas betaal ‘n rentekoers of ‘n opbrengs wat ‘n mens laat wonder of ‘n knap belegger dit nie dalk kan haal nie. Dalk so 18% per jaar in hierdie omstandighede. Die geldmark betaal tussen 5% en 6%. Gewoonlik word daar van ‘n waarborg gepraat. Of dalk word in die verkoopaksie verwys na historiese opbrengste. Gewoonlik sal ek dan vir die persoon wat hierdie produk by my kom “toets” vra om aan te dring op ‘n skriftelike waarborg van die bekende instelling in wie se naam hierdie wonderlike belegging verkoop word of dan ‘n waarborg van ‘n bekende instelling.
Vraag: Mense sal nog die Masterbondskemas en andere van die 1980’s onthou en meer onlangs die Sharemax en Pic gevalle. In die jongste geval waarmee ons te doen het was die waarborg ‘n lewenspolis en is aandeelsertifikate in een of ander ongenoteerde entiteit aan mense uitgereik. Hier is ook twee scenario’s ter sprake. Connie, wat is die twee scenario’s?
Connie: In geval een het die belegger meer as 18 maande besonder goeie opbrengste op sy belegging ontvang, maar ek is genader toe die maandelikse inkomstestroom opdroog. Die opbrengs was in die orde van 2% per maand! Toe ek aan die persoon verduidelik dat ons maar gaan sukkel om 1% per maand te genereer was hy verbysterd, want dan gaan hy mos nie maandeliks by sy verpligtings kan uitkom nie. In die tweede geval het die persoon net ‘n sertifikaat en ‘n kopie van die lewenspolis gekry in ruil vir haar R2 miljoen. En nou word daar twee maande later gewag op die een of ander betaling wat oorsee vasgehaak het voordat die kliënt ‘n inkomste uit haar belegging kan begin verdien. Daar is onlangs in ‘n bekende Sondagkoerant beleggingsgeleenthede geadverteer waar daar 5% per maand uit die een of ander diamantontginningsgeleentheid verdien kan word. Die advertensie het gemeld dat geen kansvatters aansoek moet doen nie.
Vraag: My vraag aan al die promotors en bemarkers van hierdie skema is as dit dan so maklik is om geld uit die skema te maak, hoekom leen jy nie geld by die bank om dit te benut nie?
Connie: ‘n Tipiese voorbeeld is inkomstefondse wat so ‘n jaar of wat gelede met groot beloftes verkoop is. Inkomstefondse sal gewoonlik ‘n bietjie beter opbrengs as ‘n geldmark lewer, maar soos wat ons die afgelope jaar of wat gesien het, ook nie altyd nie. Partykeer en soos wat in die voorafgaande drie jaar gebeur het, kan geldmarkfondse selfs goed doen en met vier of vyf persentasiepunte beter as die inkomstefondse presteer. Dit gebeur wanneer inflasie daal en rentekoerse ook daal. Dit was toe dat makelaars aan niksvermoedende en goedgelowige mense hierdie veilige belegging wat ‘n gewaarborgde opbrengs van 15% oplewer voorgehou het. As dit so veilig was moes ons almal mos geld teen 12% by die bank gaan leen het en teen 15% belê het. Dan kon almal vir altyd en altyd gelukkig geleef het en elke dag sorgvry op die strand gaan stap het, nie waar nie? En my gedagte vandag is: as iets te goed is om waar te wees, dan is dit gewoonlik.