Beleggingsraad en Kapitaal.
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Solank ons net nie aan my kapitaal vat nie, hoor ek gereeld as mense se vereistes wanneer hulle raad soek oor beleggings. Is dit altyd wys?
Connie: Hoe vreemd dit ook al mag klink, dit is soms goedkoper om ook jou kapitaal in te span om inkomste te voorsien.
Vraag: Wat is die rede daarvoor?
Connie: Kapitaal is nie belasbaar nie. Inkomste uit die opbrengs op kapitaal is wel. Eenvoudiger gestel, geld wat in jou brandkluis lê – wettige geld waarop jy reeds belas is – is tog nie belasbaar as jy elke dag so ’n hand vol uithaal nie. Maar geld in ’n brandkluis groei nie.
Vraag: Hoe kan jy die beste van hierdie twee wêrelde kry?
Connie: Om die beste van twee wêrelde te kry, moet jy dus jou geld só kan belê dat jy deels kapitaal trek (uit die “brandkluis”) en deels uit opbrengs op kapitaal. Versekeraars het ’n produk wat presies dit doen, wat na my mening soms ten koste van beleggers afgeskeep word, dalk juis weens die vooroordele teen kapitaalonttrekkings. Dis ’n vrywillige annuïteit, wat aangekoop word met ’n kontantbedrag, uitgesluit verpligte geld uit aftreefondse, in ruil waarvoor die versekeraar onderneem om jou ’n gereelde maandelikse of jaarlikse inkomste te betaal.
Vraag: Wat is die belastingimplikasie hiervan?
Connie: Omdat so ’n annuïteit deels opbrengs en deels kapitaal uitbetaal, is ’n gedeelte van daardie inkomste belastingvry.
Vraag: Hoe word so ‘n annuïteit bereken?
Connie: Só ’n annuïteit word bereken volgens die lewensverwagting soos per die aanvaarde mortaliteitstabelle.
Maar wat vir my die skaal in die guns van hierdie spesifieke kliënt geswaai het en dit beklemtoon my standpunt dat elke mens se behoeftes verskil, is dat albei sy ouers tot in hul negentigs geleef het.
Volgens die tabelle is sy lewensverwagting ’n verdere 17 jaar, maar volgens sy genetiese herkoms is sy kans goed om nog 30 plus jaar te leef, wat so ’n annuïteit mos by uitstek geskik maak as ’n mens die risiko wil aanroer dat jou geld voor jou doodgaan.
Uiteraard gaan sowat R10 000 per maand oor 30 jaar nie veel werd wees nie, maar daarvoor het die kliënt ander geld wat ’n mens op beleggings met goeie groeipotensiaal kan plaas om inflasie van die deur af weg te hou.
Vraag: Is daar enige ander opsies?
Connie: Daar is natuurlik verskillende opsies by die koop van ’n vrywillige annuïteit, waaroor ’n goeie raadgewer jou meer breedvoerig sal kan inlig.
Ek wil liewer vandag die verband tussen ’n vrywillige annuïteit en daardie eenderde-kontantonttrekking uit ’n aftreefonds of uittree-annuïteite uitlig.
Baie mense met wie ek praat, is huiwerig om die volle kontantbedrag te onttrek uit vrees dat hulle dan nie genoeg inkomste gaan hê ná aftrede nie. Die probleem is dat jou pensioen uit ’n verpligte annuïteit ten volle belasbaar is en wel teen jou marginale koers.
Vraag: Wat is jou raad dan?
Connie: My raad is dus om altyd minstens die belastingvrye gedeelte (minimum van R550 000) te onttrek. Afhangend van jou belastingkoers kan jy oorweeg om ook die volgende R220 000 te onttrek (solank dit binne jou eenderde val, mag jy), die 18% belasting daarop te betaal en daarmee ’n vrywillige annuïteit aan te koop.