Bespaar op mediese kostes
Mediese rekeninge kan ‘n groot hap uit jou sak neem. Ansja Ferreira van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hoe om te bespaar op mediese kostes.
Met ‘n dik kop en seer keel stap jy by die apteek in met ‘n voorskrif in jou hand. Die dokter het ‘n bolugweginfeksie gediagnoseer en is jy seker dat jou mediese fonds die antibiotika, hoesstroop en pynstillers sal betaal. Jy is nie daarop voorbereid toe die apteekassistent jou inlig dat jou mediese fonds se dag-tot-dag voordele vir die jaar uitgeput is nie. Jy moet nou self vir alles betaal en jy stap R600 armer by die apteek uit. Dit is geld waarvoor jy nie begroot het nie. Baie mense sal veral hierdie tyd van die jaar hulself met hierdie situasie kan vereenselwig. Gestel ‘n gesin van vier word almal tegelyktydig siek en dit is nodig dat almal dokter toe te gaan. Afhangende van die diagnose en die middels wat voorgeskryf word, kan die doktersbesoeke moontlik tussen R700 en R800 beloop en die apteekrekening kan maklik tussen R1 000 en R2 000 wees. Hierdie bedrae is slegs geskat en kan ook meer of minder wees. Dit is geld waarvoor ‘n mens gewoonlik glad nie begroot het nie. Mense gebruik dan hul kredietkaarte of maak skuld om hierdie kostes te dek. Dit gebeur dikwels dat mense se mediese fonds dag-tot-dag voordele eers later in die jaar uitgeput word en dit dan saamval met ander groot uitgawes wat teen die einde van die jaar voorkom, soos kersgeskenke en gesinsvakansies. Dit alles saam kan tot ‘n geldverknorsing lei.
Om geld te spaar, moet uitgawes verminder word. Dit maak dus sin dat om op jou mediese kostes te probeer bespaar, jou mediese uitgawes verminder moet word.
Gebruik generiese medikasie
Wanneer ‘n dokter ‘n voorskrif gee na ‘n konsultasie, kan die pasiënt gewoonlik by die apteek kies tussen ‘n handelsmerkproduk en die generiese weergawe van daardie item.
‘n Apteker, Kenny Baker, verduidelik dat generiese medikasie vervaardig en versprei word sonder enige patentbeskerming. Generiese medikasie moet dieselfde aktiewe bestandele as die oorspronklike formulering bevat.
Die generiese middel moet identies of binne aanvaarbare bio-ekwivalente perke wees as die handelsnaam produk, ten opsigte van farmakokinetiese en farmakodinamiese eienskappe. Die generiese middel moet ook identies aan die handelsnaam produk wees ten opsigte van dosering, sterkte, roete van toediening, veiligheid, effektiwiteit en voorgenome gebruik.
In die meeste gevalle, word generiese produkte beskikbaar sodra die patentbeskerming wat deur die oorspronklike ontwikkelaar van die produk toegeken was, verstryk het. Wanneer generiese produkte beskikbaar word, lei markkompetisie dikwels tot heelwat laer pryse vir beide die oorspronklike handelsnaam produk en die generiese vorms daarvan.
‘n Handelsnaamprodukpatent verval gewoonlik na sewe tot twaalf jaar.
Dit is belangrik om daarop te let dat die ontwikkelaar van die oorspronklike handelsnaamproduk moontlik biljoene dollars of euros bestee het aan navorsing en ontwikkeling van ‘n nuwe produk en hierdie kostes eers verhaal moet word voordat die patent verval. Hierdie kostes is nie weer nodig om aan te gaan deur vervaardigers van generiese medikasie en daarom is dit heelwat goedkoper as die handelsnaamprodukte.
Elke persoon is uniek en kan verskillend op medikasie reageer. Jou geneesheer en apteker sal jou kan leiding gee met die gebruik van generiese medikasie.
Vermy onnodige doktersbesoeke
Dit is nie nodig om vir elke kleinigheidjie dokter toe te gaan nie. Om vir ‘n reeks fisioterapiebehandelings te gaan net omdat jy graag ‘n rugmassering wil ontvang, gaan ook jou mediese fonds se dag-tot-dag voordele baie vinniger uitput.
Raadpleeg jou apteker
Die apteker kan dikwels middels voorskryf wat ook kan help. Daar kan dus bespaar word op ‘n algemene praktisyn se fooie en voorskrifte.
Die apteker kan jou ook na ‘n dokter verwys as hy van mening is dat dit nodig is. Sommige apteke lewer ook kliniekdienste en kan onder meer bloeddruklesings en bloedsuikertoetse doen, teen ‘n minimum betaling.
Hou rekord
Dit is ‘n goeie idee om rekord te hou van almal in die gesin se siektes en gesondheidprobleme. Maak ‘n lêer oop vir hierdie doel en skryf datums, simptome en geneesmiddels neer wat gebruik was vir behandeling. Skryf ook neer watter mediese toetse die persoon alreeds ondergaan het en wat die resultate daarvan was. Wanneer jy weer die dokter besoek, kan jy sodoende die dokter op hoogte hou van alle vorige behandelings en ondersoeke wat reeds plaasgevind het. Allergiese reaksie op bysteke en insekbyte, voedselallergieë, medikasies waarvoor ‘n persoon allergies is en gesondheidsprobleme soos asma, epilepsie, diabetes behoort alles daarin aangeteken te word. Deur hierdie agtergrondgeskiedenis aan jou geneesheer te verskaf, kan onnodige toetse en ekstra kostes uitgeskakel word en die diagnose van ‘n toestand kan moontlik bespoedig word.
Hou al jou kwitansies van mediese rekenings wat jy uit jou eie sak betaal het. Dit kan doktersrekenings, spesialiste en apteekrekenings insluit. As ‘n mens dit alles bymekaartel, sal jy dalk verbaas wees hoeveel geld jy werklik uit jou eie sak vir jou mediese onkostes betaal het.
Voorkoming is beter as genesing
Een van die mees effektiewe wyses om jou mediese kostes te verminder, is om ‘n gesonde lewensstyl te hê. Dit sluit in om ‘n gesonde gewig te hê, gereeld te oefen en ongesonde gewoontes soos rook en oormatige gebruik van sout te probeer uitskakel. Probeer jou immuunsisteem oppas. Bly uit die pad van mense wat ooglopend siek is. ‘n Goeie multivitamienaanvulling kan ook help om jou weerstand teen siektes te versterk en tekorte aan vitamines te voorkom.
Eet ‘n gebalanseerde dieet ‘n Dieet wat ryk is aan groente en vrugte bevat noodsaaklike vitamines en minerale wat nodig is om ons liggaam infeksies, siektes en vrye radikale in die liggaam te beveg. Ons liggame het rus nodig om te herstel van die stres van ons daaglikse lewe en om ons lewenskrag te herstel as dit uitgeput is. ‘n Gereelde oefenprogram van ten minste 30 minute drie maal per week help ons om ‘n sterk immuunsisteem te bou, van stres ontslae te raak en gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk te vermy. Dit is ook belangrik om genoeg water te drink. Luister na jou liggaam. Pas jou emosionele en geestelike welstand op. Maak elke dag ‘n bietjie tyd vir jouself. Gaan aan die begin van die jaar vir ‘n volledige mediese ondersoek en laat alle toetse en belangrike ondersoeke doen. Sodoende kan probleme vroeg identifiseer word voordat dit ernstig raak en hoër behandelingskoste later nodig sal wees.
‘n Gebalanseerde lewenswyse
Pas jou gesondheid op, want dit is ‘n kosbare geskenk. As jy nie gebalanseerd lewe nie, kan dit jou later duur te staan kom. Die koste van ‘n operasie soos ‘n hartomleiding vir ‘n persoon wat dalk rook, hoë cholestrol het en min oefen, kan baie hoog wees. So ‘n persoon kan dalk ook moet ophou werk en die moontlikheid dat hy selfs kan sterf, is nie uitgesluit nie. Sou dit nie beter vir daardie persoon gewees het om gesonder te begin lewe, ‘n gebalanseerde lae vet dieët te volg, op te hou rook en te begin oefen nie?
Hou immunisasies op datum
Neem jou baba gereeld na die naaste kliniek vir ‘n algemene ondersoek en die nodige immunisasies. Sorg dat jou baba en kleuter se immunisasies teen kindersiektes en ander gevaarlike siektes op datum is.
Griepinspuitings voor die griepseisoen kan ook baie help. As jy weet dat jy na ‘n malariagebied toe gaan, neem vooraf die voorgeskrewe malariapille. Indien jy ‘n oorsese reis beplan, maak vooraf seker watter inentings en voorkomende maatreëls aanbeveel word vir jou spesifieke reisbestemming. Reisversekering wat mediese dekking insluit, is ook baie belangrik as jy oorsee wil reis.
Belê in ‘n nebuliseerder
As jy of jou kinders geneig is tot brongitus, asma of borskwale, kan jy gerus belê in ‘n nebuliseerder. Sommige mediese fondse betaal selfs daarvoor. ‘n Nebuliseerder skakel vloeibare medisyne om in fyn druppeltjies wat in die lug vrygestel word. Die pasiënt asem dit dan in met behulp van ‘n masker wat oor die pasiënt se mond en neus pas. Hierdie masker is in volwasse, kinder-en babagroottes beskikbaar.
Kontroleer jou mediese rekenings
Maak ‘n leêr oop vir elke jaar se rekeninge en bestuur dit. Gaan jou mediese rekenings deur vir foute. Almal maak soms foute. Kyk of die rekening akkuraat is en kontroleer die datum en dienste wat gelewer is. Foute en verkeerde rekenaarkodes sluip maklik in. As jy dink dat jy ‘n fout gevind het, sorg dat dit onmiddellik reggestel word. Maak ook seker dat eise wel ingestuur is na jou mediese fonds, anders is jyself vir die betaling daarvan verantwoordelik.
Moenie kanse neem met jou of jou gesin se gesondheid nie
Moet asseblief nie jou spaarsamigheid te vêr voer nie. Moenie voorskrifmedisyne van een persoon aan ‘n ander gee nie. Dit kan gevaarlik wees. Gesondheid is belangriker as geld.
Moet nie kanse met jou of jou gesin se gesondheid neem nie. As dit werklik nodig is, maak ‘n doktersafspraak vir jou of jou kind.
Registreer jou chroniese toestand by jou mediese fonds
Chroniese toestande soos byvoorbeeld diabetes, depressie, epilepsie en bloeddruk, kan by jou mediese fonds geregistreer word. Jy kan jou chroniese medikasie dan maandeliks kry en hoef dit nie jou dag-tot-dag voordele te beïnvloed nie.
Bou ‘n neseier op vir mediese noodgevalle
Bou ‘n neseier op wat jy kan gebruik vir onvoorsiene mediese uitgawes wanneer jou mediese fonds uitgeput is of vir groot bybetalings of medikasie wat nie deur jou mediese fonds gedek word nie. Baie mense kan reeds vroeg in die jaar agterkom dat hul mediese fonds se dag-tot-dag voordele voor die einde van die jaar uitgeput gaan raak. As jy reeds vroeg in die jaar besef dat dit die geval gaan wees, kan jy elke maand ‘n bedrag spaar om vir mediese kostes te betaal wat nie deur jou mediese fonds betaal gaan word nie.
Trek jou mediese kostes af van belasting
Volgens P C Bruwer en Vennote se belastinggids vir 2024, kan belastingbetalers bydraes tot ‘n mediese fonds aftrek, maar word dit beperk tot ‘n bedrag van R364 vir die eerste twee lede en tot R240 vir elke addisionele lid. Verder mag die bydraes wat nie hiervolgens toegelaat is nie, saam met ander mediese uitgawes afgetrek word volgens ‘n formule bereken deur SAID. Gestremde persone mag alle mediese uitgawes aftrek van belasting. Volgens die SAID webwerf, word ‘n persoon met ‘n gestremdheid breed omskryf as ‘n matige tot ernstige beperking op ‘n persoon se vermoë om daaglikse aktiwiteite te verrig weens ‘n fisiese, sensoriese, kommunikasie-, intellektuele of geestelike aantasting wat langer duur as ‘n jaar en bevestig is deur ‘n behoorlik geregistreerde mediese praktisyn. ‘n Vorm ITR-DD – Bevestiging van die diagnose van ongeskiktheid vir ‘n individuele belastingbetaler, is beskikbaar op www.sars.gov.za en moet in samewerking met ‘n geregistreerde mediese praktisyn ingevul word.
Mediese fondse: oorweeg al jou opsies
Vra kwotasies aan by verskillende mediese fondse en bestudeer wat elkeen bied. Die goedkoopste is nie altyd die beste nie. Dit is noodsaaklik om jaarliks jou mediese fonds te evalueer. Indien jy agterkom dat jou dag-tot-dag voordele reeds vroeg in die jaar opgebruik is en jy die res van die jaar self alle dag-tot-dag mediese uitgawes moet betaal, is dit tyd om jou opsies te heroorweeg.