Die belangrikheid van testamente.

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

 

Vraag:  ’n Kliënt skryf dat haar seun oorlede is sonder om ’n testament na te laat. Sy wil weet wat die regte van die seun se kind, haar kleinseun, is.   As ek reg aflei uit die brief is die feite min of meer soos volg: Haar seun het ’n verhouding gehad met iemand by wie hy ’n seun gehad het. Hy en die kind se ma is nooit getroud nie en sy is later met iemand anders getroud. Die kind is nou volwasse.  Sy ma en haar prokureur eis nou ’n deel van die oorledene se boedel. Die kliënt  wil weet wat haar kleinseun se regte is.

Connie:  Net eers iets algemeens, dan kyk ons na die feite van die geval. As iemand intestaat, dit is sonder testament, sterf word daar met sy bates gehandel ingevolge die intestate erfreg. Hierdie wet vereis sekere stappe en skryf voor wie wat en hoeveel mag kry van die boedel nadat skuldverpligtinge en ander laste en belastings verhaal is.

As die oorledene binne gemeenskap van goed getroud was, sal die boedel in twee verdeel word aangesien hy net die helfte daarvan besit het. Die een helfte bly die eiendom van die vrou (as sy die langslewende is) en die man (as hy die oorledene is) se bates vererf dan intestaat.

Dan volg die “reël” dat die bates verdeel moet word volgens hoeveel kinders daar is plus een as hy getroud was. Die netto boedel word dus gelykop verdeel tussen die kinders en die vrou.

As die vrou se deel minder is as ’n bedrag wat deur die minister bepaal word, moet sy minstens hierdie bedrag ontvang. Tans is die bedrag R125 000.

As daar geen eggenote is nie, vererf die volle boedel na die kinders in gelyke dele. As een van die kinders reeds oorlede is, ontvang die kinders van daardie kind dié deel. As daar nie kinders is nie, vererf alles in gelyke dele na die ouers ensovoorts, altyd na die naaste familie. Waar geen naasbestaandes is nie, word dit ná 30 jaar aan die staat verbeur.

Daarom is die eerste vraag in ons geval hier: Was die man getroud?

 

Vraag:  Hoe word ‘n huwelik deesdae geïnterpreteer?

Connie:  Nou, ’n huwelik word deesdae wyd geïnterpreteer, maar uit die kliënt  se brief lyk dit vir my die vrou was getroud met iemand anders. Ek dink ons is dus veilig deur aan te neem dat hy nie met haar getroud was nie.

Daar blyk ook nie ander kinders te wees nie, dus is die seun na wie die kliënt  verwys die enigste wettige erfgenaam. En volgens die intestate erfreg die enigste wat ’n aanspraak op sy pa se netto bates sal hê. Anders gestel, hy moet alles kry wat sy pa besit het. Die feit dat die vrou sy biologiese ma is, is nie genoeg gronde vir haar om ’n deel van die boedel op te eis nie.

Dit is natuurlik interessant dat as sy ook sonder testament sterf die seun ’n aanspraak op haar boedel kan hê op grond van die feit dat hy haar kind is, tensy hy natuurlik deur iemand anders aangeneem is.

Hoe ook al, ek weet nie op watter gronde die vrou ’n deel van die boedel opeis nie. Uit die gegewens blyk dit nie vir onderhoud te wees nie en die feit dat ’n mens by iemand geslaap het, gee jou nie ’n reg op sy boedel nie.

Ek stel voor jou kleinseun gaan spreek die meester van die hof (’n goeie prokureur sou seker beter wees, maar duurder) en probeer die ding uitsorteer, want volgens jou gegewens is hy die enigste wettige erfgenaam en die ma se eis lyk na ’n kansvattery.