Die keuse tussen ‘n trust en ‘n maatskappy.
Connie Bruwer van PC Bruwer gee raad oor die belangrike onderwerp.
Vraag: Wat is die beste struktuur om ‘n familie-onderneming in te bedryf, ‘n trust of ‘n maatskappy?
Connie: Ek kry dié vraag gereeld in die praktyk en my antwoord is gewoonlik dat ‘n maatskappy beter is.
Vraag: Waarom sê jy so Connie?
Connie: Niks verhoed jou om ‘n trust vir sake te gebruik nie. Ek wonder net hoekom ‘n mens dit wil doen. Ek meen in elk geval nie dis ‘n vraag vir of die een of die ander nie. Die twee kan mekaar aanvul. Die hoofrede vir ‘n maatskappy of ‘n trust, as ek dit in een sin moet opsom, is om die risiko van die sake en die groei van die bates uit jou persoonlike boedel uit te haal. Die besluit oor ‘n maatskappy of trust gaan dus in die eerste plek oor boedelbeplanning.
Vraag: Watter foute maak mense?
Connie: ‘n Fout wat ek dikwels sien mense maak, is om die onderneming in ‘n trust oor te dra, maar al sy ander bates in dieselfde trust te hou. Kortom, al sy bates is steeds in een mandjie en getrou aan die mite van trusts leef sulke mense in die gekkeparadys dat alles veilig is omdat dit “in trust” is.
Moenie glo nie. As daar fout kom met die onderneming en skuldeisers begin kyk na jou bates, is al die bates in die trust aan risiko onderhewig, al het dit niks met die onderneming self uit te waai nie. As jy trusts so inspan, gebruik dan meer as een trust vir afsonderlike bates.
Vraag: Wat is belangrik vanuit ‘n sake-oogpunt?
Connie: Die belangrike punt vanuit ‘n sake-oogpunt vir my is die kwessie van beheer. Met ‘n onderneming wil ek wins maak, ek glo dit is almal se doel daarmee. As ek ‘n risiko aangaan om wins te maak, wil ek beheer hê oor hoe die onderneming bedryf word en oor hoe die wins uit die onderneming verdeel word. En dit bots lynreg met die bedoeling en die regsvereistes van ‘n trust.
Vraag: Wat bedoel jy daarmee, Connie?
Connie: Vir ‘n trust om erken te word, moet die trustoprigter hom-of haarself losmaak van die trusteiendom. Ek is bewus van baie voorstanders van trusts se argumente oor maniere waarop dit gedoen kan word en steeds ‘n trust daarstel, maar nie al hierdie argumente gaan waterdig wees in ‘n hofsaak nie. Dit het in elk geval nie vir my sin om argumente vir hofsake te sit en uitdink as jy dinge baie makliker van die begin af reg kon doen nie. As die trustoprigter die trustbates as sy eie beskou en in sy eie belang die onderneming bedryf, is die kanse meer as goed dat die trust as ‘n verlengstuk van jouself beskou kan word.
Vraag: Wat sal dan die beste wees om te doen?
Connie: Ek meen dit sou beter wees om ‘n losstaande trust te stig en dan die familie-onderneming in ‘n maatskappy te bedryf. Die maatskappy reik dan sowel voorkeur-as gewone aandele uit. Die gewone aandele word aan die trust oorgedra en die voorkeuraandele, ‘n paar meer as die totaal van die gewone aandele, aan die sake-eienaar.
Met die voorkeuraandele gee dit die eienaar ‘n groter mate van beheer oor die onderneming, terwyl al die groei in die gewone aandele en ander bates in die trust en nie in sy persoonlike boedel nie, plaasvind.
Vraag: Wat is die voordeel hiervan?
Connie: Hy hoef dus nie, soos in die geval van ‘n trust alleen, allerhande bedenklike maniere uit te dink om beheer oor die trustees van die trust uit te oefen ten einde sy onderneming winsgewend en tot sy voordeel te bedryf nie. Omdat hy deur sy voorkeuraandele die maatskappy beheer, beheer hy ook die onderliggende bates en dus ook die wins van die onderneming. Hierdie struktuur skep ook geleenthede vir die voortsetting van die onderneming na die dood van die eienaar en terselfdertyd versorging van naasbestaandes uit die trust.
Vraag: Sou jy voorstel dat lesers wat so ‘n struktuur oorweeg dit eers goed met ‘n beplanner moet deurpraat?
Connie: Beslis ja, want dit het addisionele koste wat in ag geneem moet word. Daar is ook belastinggevolge – nie almal negatief nie – wat oorweeg sal moet word binne jou eie omstandighede om seker te maak dat jy nie meer weggee as wat jy wen nie. Ek meen nietemin dat hierdie struktuur vir die meeste sake-eienaars waarde kan toevoeg, maar dit moet liefs geinkorporeer word as deel van ‘n volledige beplanning eerder as ‘n alleenstaande oplossing.