Die kwessie van ‘n eenvoudiger leefstyl.
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gesels oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Ons word die laaste tyd gereeld met die kwessie van ’n eenvoudiger leefstyl gekonfronteer. So ’n leefstyl is nie net een van ’n aantal geloofswaarhede nie, dit word in die meeste gevalle in elk geval op ’n persoon afgedwing wanneer hy/sy aftree. Kom ons gesels bietjie hieroor, Connie.
Connie: Dit is so dat min mense genoeg in hulle pensioenfondse belê om hulle leefstyl voor aftrede ná aftrede net so voort te sit.
Dit dwing hulle dan om veranderings in hul leefstyl aan te bring.
Vir baie mense kan dit dalk traumaties wees om dit te doen, maar as mens weet dat daar wêreldwyd oor ’n eenvoudiger leefstyl gedink en geskryf word, is dit dalk iets om weer oor te dink en eintlik opgewonde oor te raak.
Vraag: Die vraag is: Wat kan ’n mens doen om ’n afgeskaalde lewensstyl op so ’n wyse te bewerkstellig dat dit nie voel dat jy na ’n strafkamp gestuur word nie, maar dat dit eerder as ’n avontuur gesien word?
Connie: Dit is ook nie lekker as jy moet werk net om die rekenings te betaal nie.
Daar is ’n paar goed wat gedoen kan word.
* Koop ’n kleiner huis. Dit is duur om ’n groot huis en ’n groot tuin in stand te hou en om so ’n huis te verwarm.
* Ry ’n goedkoper motor, want ’n goedkoper maar betroubare motor is gewoonlik ligter op brandstof.
Deesdae het die meeste motors, selfs met ’n enjin van 1600 cc, baie luukshede in en hoef jy dus nie te voel jy is slegter daaraan toe as jy ’n goedkoper motor ry nie.
Baie mense is bereid om presies dit te doen as so ’n opoffering beteken dat jy meer gereeld gholf kan speel of meer met vakansie kan gaan.
Vraag: Wat kan nog gedoen word?
Connie: * Laat staan die duur TV-diens. Daar is goedkoper alternatiewe wat ook jou gunstelingprogramme aanbied.
* Rente. Knip die kredietkaart middeldeur of sorg dat jy dit elke maand ten volle aflos.
* Betaal jou kar in drie jaar af. Betaal ekstra geld tot jou beskikking op jou huis af.
Jy kan sodoende in ’n dekade of wat honderdduisende rande aan rente spaar.
* Moet niks koop wat jy nie werklik nodig het nie.
* As jy al dié dinge doen, kan jy dalk ’n eenvoudiger werk “bekostig”.
’n Werk wat dalk minder stres tot gevolg het en ook meer tyd bied om te gaan stap of draf of gholf te speel – iets wat jou lewenstyl kan verbeter sonder dat dit jou ’n fortuin hoef te kos.
* Moenie skuld maak nie. Dit maak dat jy later nog harder moet werk net om die skuld terug te betaal en jy kan dus nie die belangrike goed in jou lewe geniet nie.
Vraag: Namate mense se inkomste styg en hulle meer kan bekostig, word goedere en dienste wat voorheen as ’n luuksheid beskou is, nou ’n noodsaaklikheid. ‘n Mens moet seker hierteen waak.
Connie: Namate mense ouer word en hul kinders uit die huis en uit hul sakke beweeg, kan hulle in die tyd voor aftrede ’n luukser lewenstyl bekostig.
Dit gaan dan moeilik wees om af te skaal wanneer jy aftree.
Dieselfde ding gebeur as mense van werk verander en hulle opgeboude aftreevoorsiening onttrek en die geld gebruik vir ’n goedbedoelde prioriteit soos om jou huis af te betaal.
Met die huisverband uit die weg geruim, kan jy jou lewenstyl verbeter, maar as jy aftree gaan jy in elk geval die goed wat ek hierbo genoem het moet begin doen omdat jou aftreevoorsiening te min gaan wees.
Om ’n eenvoudiger lewenstyl te begin volg voordat jy ’n gedwonge aftree-ouderdom bereik, beteken dat jy in ’n mini-aftrede ingaan.
Mense gaan nie almal verstaan waarmee jy besig is nie.
Vraag: Dit is altyd vreemd as ’n senior persoon in ’n uitvoerende pos bedank en sê hy gaan sy eie belange najaag.
Connie: Dalk kan hy dit bekostig om vroeg reeds af te skaal, maar dit beteken steeds dat hy van sekuriteit wat hy gehad het, wegstap.
Gewoonlik begin so iemand ’n tweede, maar rustiger loopbaan. Iets eenvoudigers.
Of dalk raak die persoon by die kerk of ’n liefdadigheidsorganisasie betrokke.
Hierdie is ook van toepassing op diegene wat op die punt is om af te tree.
As jy so ’n eenvoudiger lewenstyl kan begin implementeer, gaan dit dalk beteken dat jy meer oor het om aan ander wat minder bevoorreg is te gee.
En as jou stres minder is, gaan jy in elk geval langer, gelukkiger en gesonder leef.
Hoekom nie?
In sommige gevalle is dit dalk net belangrik om seker te maak dat jy jou werk geniet en dat jy nie werk om te leef nie.