Die regte van huiseienaars.

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

 

Vraag:  Die onsekerheid wat daar die afgelope twee jaar ontstaan het oor die reg van huiseienaars om van huurders ontslae te raak wat nie hul huur betaal nie, gaan binnekort iets van die verlede wees.  Connie, wat kan jy vir ons hieroor vertel?

Connie:  Veranderings aan die wetgewing wat tot die onsekerheid gelei het, is reeds goedgekeur en sal binnekort uitgevaardig word.  Die onsekerheid is veroorsaak deur die Wet op die Voorkoming van Onwettige Plakkery van 2004 wat bepaal het dat iemand wat ‘n bepaalde tyd op ‘n stuk grond geplak het, nie dan sommer van die grond gesit kan word, omdat die grondeienaar nie meer van sy teenwoordigheid op die grond hou nie.

 

Vraag:  Wat het in so ‘n geval gebeur?

Connie:  In so ‘n geval moes die grondeienaar by die hooggeregshof aansoek doen om ‘n uitsettingsbevel en het die howe in die meeste gevalle beslis dat die grondeienaars alternatiewe huisvesting vir die plakkers moes vind.  Die onsekerheid is vererger toe die appélhof die regte van onwettige plakkers uitgebrei het na huurders of verbandhouers wat onwettig ‘n residensiële eenheid beset omdat hulle nie hul huur of verbandpaaiemente betaal nie.

 

Vraag:  Dit het seker baie probleme veroorsaak, Connie?

Connie:  Dit het tot konsternasie in eiendomskringe gelei, omdat daar vrese bestaan het dat verhuurders gaan sukkel om van huurders ontslae te raak wat nie hul huur betaal nie omdat ‘n huurder wat die uitsettingsproses lank genoeg vertraag daarop kan aanspraak dat hy dieselfde regte as ‘n onwettige plakker het.

In so ‘n geval sal die verhuurder gedwing kan word om alternatiewe huisvesting vir die huurder te soek.

 


Vraag: 
Hierdie beslissing het sekerlik ook ander ernstige gevolge gehad, nie waar nie Connie?

Connie:  Die beslissing het ook ernstige gevolge ingehou vir die banke wat huise moet terugneem van kliënte wat nie hul huislenings terugbetaal nie.  Prokureurs wat groepe mense verteenwoordig wat ou geboue in Johannesburg se middestad onwettig bewoon, het die wet ook gebruik om die Johannesburgse stadsraad te keer om die mense uit te sit, omdat die geboue onveilig is en dat die stadsraad nie vir hulle alternatiewe huisvesting voorsien het nie.

 

Vraag:  Het die regering enigiets aan die saak probeer doen?

Connie:  Die regering het egter die gemoedere probeer kalmeer deur te sê dat dié gevolge nooit die bedoeling was toe die wet opgestel is nie.  Die wysigings aan die wet maak daarvoor voorsiening, dat enigiemand wat in ‘n stadium wettig was, nie later as ‘n onwettige plakker beskou kan word nie.

Iemand was wettig toe hy huurgeld of verbandpaaiemente betaal het en die feit dat so ‘n persoon opgehou het om te betaal, verander nie sy status nie.

Gesonde logika het geseëvier in hofbeslissings sedert die appélhof se beslissing en dit “is steeds wetlik moontlik om mense wat nie hul verpligtinge nakom nie, uit te sit”.

Wanneer die beplande veranderings aan die wet gepromulgeer is, sal alle onsekerheid uit die weg geruim wees.