Die waarde van kommunikasie oor finansies in ‘n huwelik of verhouding.
Kommunikeer julle genoeg oor jul geldsake? Hier is raad:
“My man was die broodwinner en ek het by die huis gebly om die kinders te versorg”, vertel *Glenda du Toit. My man 3 jaar gelede onverwags oorlede in ‘n motorongeluk en ek was heeltemal verward en geskok. Ek het nie geweet wat in my man se geldsake aangaan nie en het nie eens geweet of hy vir ons voorsiening gemaak het of waar hy sy belangrike dokumente gebêre het nie. Dit was ’n verskriklike traumatiese tyd vir my. Ek was nie gewoond om rekeninge te betaal nie en nog minder om belangrike finansiële besluite te neem. Ek het nie geweet wat ek moet doen nie. My man se broer het my darem kom help en ons het die dokumente gesoek totdat ons dit gekry het en daardeur gegaan. Dit sou baie beter en minder traumaties vir my gewees het as my man voor die tyd met my gekommunikeer het en my ingelig het wat presies aangaan in sy finansies”, vertel sy
Vroue leef gemiddeld langer as mans. Om hierdie rede, asook die hoë egskeidingsyfer, is dit belangrik dat vroue hulself bemagtig en leer om self hul finansies te hanteer. In historiese konteks gesien, was mans hoofsaaklik die broodwinner, wat alle finansiële sake hanteer het.
Die situasie het heelwat verander en nou neem vroue dikwels beheer oor hul werk en huishouding. Tog skram baie vroue daarvan weg om beheer oor hul finansies te neem en te dikwels word alle finansiële besluite aan ’n man oorgelaat.
Waarom gebeur dit? ’n Vrou kan haar geldsake tog net so goed soos ’n man behartig. Dit het moontlik met vroue se rol as versorger te doen en dat ’n vrou dikwels ander se belange bo haar eie stel. Dit kan ook gebeur dat ’n vrou nooit geleer het om beheer oor haar finansies te neem nie, aangesien iemand anders altyd beskikbaar was om dit namens haar te doen.
Baie vroue kom eers ná ’n egskeiding, die dood of die ernstige siekte van ’n eggenoot agter dat hulle nie weet hoe om hul geldsake te hanteer nie. Hulle het moontlik nooit geleer hoe om met finansiële aspekte te werk en geldsake te hanteer nie. Dit kan katastrofiese gevolge vir so ’n vrou en haar kinders inhou. Om skielik met verbandskuld, motorpaaiemente, skoolgeld, polisse en boonop begrafnisreëlings gekonfronteer te word, is nie maklik nie, veral as jy nie weet hoe om dit te hanteer of weet waar alles gehou word in.
Dit het al selfs gebeur dat ’n vrou nie eers weet waar en hoe om ’n munisipale rekening te betaal nie. Ons het gaan kyk na dit wat vroue moet weet.
- Sorg dat jy weet waar alle belangrike dokumente soos testamente, geboortesertifikate, rekeningnommers en polisdokumentasie gebêre word. As jou man iets sou oorkom, moet jy weet waar alles gevind kan word.
- As jy enkellopend is, is dit belangrik dat alles goed georganiseerd en bymekaar gehou word en dat ’n naasbestaande weet waar dit gehou word as jy iets sou oorkom.
- Maak afskrifte van belangrike dokumente sodat jy dit kan gebruik as die oorspronklikes verlore raak.
- Sorg dat jy verstaan wat in jou versekeringsdokumente staan en wat alles behels en beteken.
- Maak seker dat jy nie oor- of onderverseker is nie. As jy enigsins twyfel, maak ’n afspraak met ’n kundige versekeringsmakelaar wat dinge aan jou kan verduidelik. Maak seker dat jy die premieverhogings in die toekoms sal kan bybring.
- Praat gerus met jou man hieroor. Lewensversekering kan gemoedsrus bring en vir ’n inkomste vir jou en jou kinders sorg wanneer jou man nie meer daar is nie. Dit is belangrik om jou kinders se toekomstige opvoeding en onderhoud in ag te neem wanneer julle oor die bedrag praat.
- As jy sonder ’n testament te sterwe kom, sal die landswette bepaal wat van jou besittings gaan word. Jy sal dus intestaat sterf, wat eenvoudig beteken: “sonder enige wettige testament”. In hierdie geval tree die instestate erfregreëls in werking. Onthou dat mondelingse wense en beloftes geen wetlike invloed of gevolg het nie. Stel dus so gou as moontlik ’n testament op, ten einde jou gesin baie ellende te bespaar.
- In jou testament moet jy ook jou minderjarige kinders se voog benoem sodat daar iemand is wat na hul belange kan omsien as jy en hul pa gelyktydig te sterwe sou kom.
- ’n Naasbestaande wat jy vertrou, moet weet waar jou testament bewaar word en wie jou boedel gaan beredder.