Etiket oor die kultuurgrense heen en die rol wat kulturele intelligensie speel.
Ansja Ferreira van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Wat in een kultuur aanvaarbaar is, kan vir ‘n ander byvoorbeeld skokkend of selfs ‘n belediging wees. Ons almal, of die meeste van ons, gaan een of ander tyd in ‘n situasie beland waar ons met mense te doen kry wat ‘n verskillende kultuur as ons het of van ‘n ander land af kom, met gebruike en optrede wat dalk drasties van ons eie kan verskil. Dit kan gebeur wanneer ons oorsee reis vir besigheid of vakansie, sosiale-of besigheidsfunksies-of byeenkomste bywoon waar daar mense van verskillende kulture of lande teenwoordig is of mense van ander lande en kulture huisves byvoorbeeld vir sportbyeenkomste, toergroepe of uitruilstudente/skoliere van ander lande. In ons alledaagse lewe kan ons ook mense van ander lande en kulture raakloop in die supermark, museum, winkelsentrum of teater. Bemagtig jouself deur interkulturele verskille in etiket en gewoontes te verstaan, te erken en te respekteer om op hierdie wyse jou verhoudings met mense van ander kulture en lande te versterk.
Volgens Margarita Gokun Silver van die Global Coach Centre Academy, wat interkulturele opleiding aanbied, is een van die beste wenke wanneer jy met mense van verskillende kulture oor die weg wil probeer kom, om waar te neem, op te let en te luister.
“Dit is altyd goed om ‘n situasie binne te gaan met ‘n mate van kennis, maar niks sal jou vinniger leer as jou eie oë en ore nie, sê Margarita.
“Neem die tyd om op te let hoe die plaaslike mense (“locals”) van die spesifieke kultuur met mekaar in interaksie is en hoe hulle ten opsigte van hierdie interaksie optree, beveel Margarita aan. Indien jy nie die reaksie of interaksie verstaan nie, vra ‘n plaaslike vriend of persoon wat jy vertrou. Deur indringende aandag te gee aan wat rondom jou gebeur, sal jou nie net leer om effektief te kommunikeer nie, maar jou ook help om te verstaan hoe daardie spesifieke samelewing of kultuur funksioneer, wat hulle goedkeur en afkeur en wat jy kan doen om op ‘n respekvolle wyse met hulle in interaksie te wees”, verduidelik Margarita.
“Baie is al geskryf oor hoe om op te tree in ander lande, van kleredrag, gebare tot eetkamer gewoontes, sê Charlotte Youens, ‘n etiketkenner en eienaar van The Elegant Touch-etiketskool in Johannesburg.
“As jy ‘n vreemde land gaan besoek en ‘n sekere tydperk in daardie land gaan deurbring, is dit belangrik om ‘n gids met betrekking tot daardie lande se kultuur-en geloof stelsel aan te koop. Daar is egter ‘n paar eenvoudige riglyne wat jy kan volg in ‘n verskeidenheid van kulturele situasies, sonder dat jy enigiemand aanstoot sal gee, sê sy .
“In die eerste plek , moet jy enige gevoel van xenofobie of kulturele meerderwaardigheid uit jou denke skrap. Jy moet besef dat alle kulture verskillend is, maar nie minderwaardig teenoor mekaar is nie. Die woorde “goeie ” of ” slegte” behoort glad nie ‘n plek by die beskrywing van kulturele verskille te hê nie. Ongeag of iemand anders se kultuur positief of negatief mag wees, is die kultuur bloot is wat dit is, sê Charlotte.
“Ongeag van wat jou gashere of gaste doen, byvoorbeeld buig wanneer hulle ‘n handdruk of ‘n soen op beide wange verwag, is dit belangrik om te besef dat jou manier nie noodwendig beter is nie en elke nuwe ervaring wat jy kan ondervind, jou net ‘n beter globale burger kan maak, sê Charlotte.
Volgens Charlotte moet jy nooit aanvaar dat jy iemand ‘n guns bewys deur hul kultuur te aanvaar nie. “Dit is dieselfde as om te leer om met moeilike / verskillende mense in jou alledaagse omgewing oor die weg te kom – dit is iets wat jy moet doen om te slaag.
Sy beveel ook aan dat jy wegbly weg van besprekings oor onderwerpe soos politiek en godsdiens. “Moenie jou of iemand anders se regerings of godsdienste kritiseer nie. Op beide maniere sal jy as ‘n “dwaas” (fool) beskou word. As jy jou eie land kritiseer, sal mense jou lojaliteit teenoor jou eie land bevraagteken. En om aanstoot te gee teenoor enige ander kulture, regering of geloofsisteem, is heeltemal buite perke, sê sy.
Charlotte gee die volgende wenke:
Geskenke : In die meeste lande, is ‘n klein geskenkie vir jou gasheer of gasvrou toepaslik wanneer jy byvoorbeeld uitgenooi word om iemand se huis te besoek om te kuier of ‘n ete te geniet. Die meeste geskenke behoort nie te persoonlik te wees nie en moet altyd toegedraai word met groot sorg. Probeer om nie wit of swart geskenkpapier te gebruik nie, aangesien dit as slegte geluk beskou word en gebruik helderkleurige lint. Gee ‘n geskenk wat uniek is van waar jy af kom. Dit sal baie spesiaal wees en opreg waardeer word. Idees vir geskenke kan insluit ‘n koffietafelboek oor jou land, lekkernye van jou huis of enige respekvolle ornamente, wat byvoorbeeld nie godsdienstig, politieke of te persoonlik is nie. Moet nooit rooi rose gee nie, aangesien dit romantiese bedoelings simboliseer. Dieselfde geld vir angeliere wat rou simboliseer. As jy wyn bring, moet dit ‘n ingevoerde Franse of Italiaans wyn wees . Gee jy Duitse wyn, word dit beskou dat dit beteken dat jy dink die gasheer sal nie ‘n goeie gehalte wyn bedien nie.
Groet Rituele : ‘n Meer formele handdruk, eerder as minder formeel (“Buddy Buddy”) is gebruiklik in Europa. Dit is soms die gewoonte dat dames en dié van hoër rang eerste hul hand uitsteek om te groet (wanneer hulle Europeërs is).
Jy sal selde voorname gebruik, onmiddellik nadat jy ‘n Europeër ontmoet het en moenie aanvaar dat jy hul voorname kan gebruik wanneer jy mense aan mekaar voorstel nie. Wag totdat hulle jou vra om hulle op hul voorname aan te spreek of gebruik die aanspreekvorm waarmee jy bekend is.
Titels, veral akademiese titels, word altyd in Europa gebruik. Professore, prokureurs, dokters of enige ander professionele mense, word altyd voorgestel met hul titels.
Wyn en Etes : Daar is so baie geleenthede vir verwarring wanneer jy gaan eet in ‘n ander land en daarom behoort jy die moeite te doen om ‘n bietjie kennis daaroor in te win, voordat jy ‘n ander land besoek. Selfs al het jy meer inligting hieroor ingewin, is dit steeds moontlik om ten minste een keer of elke nou en dan ‘n fout te maak. Dit is waar jou nederige en respekvolle houding dan van toepassing is. Laat die mense rondom jou weet dat jy nie alles weet nie en dat jy dit op prys sal stel indien hulle jou sal reghelp indien jy iets verkeerd doen. Wanneer jy kan agterkom uit iemand se gesigsuitdrukking of liggaamstaal dat jy iets verkeerd gedoen het, spreek dit onmiddelik aan. “Ek is bang dat ek dalk iets gedoen het om aanstoot te gee en ek is jammer”. Indien iemand hierdie woorde vir jou gesê het, sou jy nie ‘n aanstootlike aanmerking of twee vergewe het nie?” vra Charlotte.
Sosiale Taboes : In baie Europese lande, is dit ‘n ernstige fout om mense te vra wat hulle doen of hulle persoonlike vrae te vra as deel van ‘n strategie om ‘n gesprek aan die gang te sit. Europeërs is meestal formeel en meer teruggetrokke oor sulke sake as ander Westerlinge.
Wees op die uitkyk vir hierdie gebaar-verwante foute :
– Die algemene Westerling gebaar vir ” OK” waar ‘n sirkel gevorm deur die wysvinger en duim gebruik word, is offensief/aanstootlik in Duitsland.
– Om jou hande in jou sakke te hou, word beskou as onbeskof.
– Om iemand vriendskaplik liggies op die rug te slaan (“back-slapping”) is uit plek in Noord-Europa .
– Om aan ‘n etenstafel jou hande onder die tafel te hê, word as onbeskof beskou.
Ontmoetingstye-en style:
In die algemeen, begin vergaderings in die Noord- Europese lande stiptelik en die toon is saaklik , terwyl vergaderings in die Middellandse See-lande(Mediterranean) van Europa laat begin en voorafgegaan word deur ‘n oënskynlik irrelevante geskerts . Maar hierdie geskerts word beskou as deel van die besigheid , want dit is die beste geleentheid om jou gasheer sovêr te kry om jou te leer ken , en dit is ‘n voorvereiste vir saketransaksies in die Middellandse See-lande ( en baie ander plekke ook).