Franchise finansiering.
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Finansieringsinstellings weet goed dat vorige verlangsamings van die ekonomie die franchise-sektor nie onder gekry het nie. Daarom is dié sektor in ’n veel sterker posisie om finansiering te bekom in die huidige ekonomiese afswaai as sakeondernemings wat onafhanklik die mas moet opkom. Vertel ons asseblief meer hieroor, Connie.
Connie: Volgens die Franchise-vereniging van Suider-Afrika (Fasa) meen banke en ander finansierders die franchise-bedryf is een van die sektore wat buigsaam en innoverend genoeg is om ekonomiese storms te deurstaan.
In 2002-’03, toe die ekonomiese siklus ook ’n onderste draaipunt bereik het, het die bedryf in teenstelling daarmee met 17,5% uitgebrei.
Suid-Afrika se voorste bankgroepe, Business Partners en die Industrial Development Corporation (IDC) sê hulle het planne gereed wat aansoeke om finansiering in moeilike tye kan bespoedig.
Me. Trudi van Niekerk, Absa se franchise-hoof, sê Absa het ’n aantal produkte ontwikkel wat spesifiek gemik is op subsektore, soos die brandstofbedryf. Die bank is ook gewillig om leningstermyne te verleng om franchise-houers deur die ekonomiese afswaai te help, sê sy.
Mnr. Mark Rose, hoof van Nedbank se franchise-afdeling, sê die bank werk saam met franchise-gewers die beste finansieringstruktuur vir franchise-houers uit.
Vraag: Wat beteken dit?
Connie: “Dit beteken daar is vooraf goedgekeurde finansieringsriglyne wat onsekerheid uit die weg ruim”.
Een van die eerste aspekte wat Standard Bank in moeilike tye in ag neem is wat die franchise-gewer doen om sy ondernemings lewensvatbaar te hou, sê mnr. Frank Orchard, senior bestuurder: verkrygings en franchise-bedrywighede.
“Met rentekoerse wat die hoogte ingeskiet het, moet ons seker maak dat ondernemings nie oorbelas word nie. Ons werk saam met die franchise-gewer en franchise-houers om saam ’n oplossing te vind.”
Vraag: Enige ander benaderings of menings?
Connie: Business Partners se bedryfshoof, mnr. Freddie Bruintjies, sê dié organisasie het ’n buigsame benadering tot die hoeveelheid eie kapitaal wat ’n voornemende kleinsakeman moet bydra.
“Ons besluite is nie afhanklik van ’n kollaterale belegging nie omdat ons klem lê op die potensiële kontantvloei wat gegenereer kan word om vas te stel wat die skuldvlak is wat ’n onderneming kan bekostig,” sê hy.
Me. Christine Schreuder, franchise-hoof van die IDC, sê hoewel dié organisasie se klem steeds val op die ondersteuning van ontluikende entrepreneurs met beperkte kapitaal wat franchise-houers wil word, word daar nou ook gekyk na die finansiering van franchise-gewers.
“Die IDC het ’n skema waarvolgens grootmaatlenings aan franchise-gewers gedoen word, wat dan weer die lenings kan deurgee na franchise-houers in die groep.
“Regstreekse finansiering van minstens R1 miljoen oor ’n tydperk van hoogstens ses jaar is vir franchise-houers in SEB-groepe beskikbaar.”