Hoe kan jy genoeg te spaar vir jou aftrede?
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Ek het onlangs gehoor dat 94% van alle Suid-Afrikaners nie finansieël sorgvry kan aftree nie. Hoekom is dit so, Connie?
Connie: Pensioenvoordele deur maatskappye voorsien, is waarskynlik onvoldoende om ten volle in ‘n persoon se aftreebehoeftes te voorsien. Inflasie verminder jou geld se koopkrag, wat beteken dat jy met verloop van jare al hoe minder met ‘n gelykblywende inkomste kan koop. Met die vooruitgang in geneeskundige en mediese tegnologie, leef mense langer. Die gemiddelde leeftyd van laerisiko mans en-vroue is tans 85 en 90 jaar onderskeidelik. Afgetredenes, wat geen bystand van hul voormalig werkgewers ontvang ten opsigte van bydraes tot hul mediese skema, dra ‘n geweldige las juis op ‘n tydstip wanneer hulle mediese versorging waarskynlik die nodigste het. Al hoe meer mense tree jonger af of neem ‘n pakket. Jou aftreejare kan dus moontlik langer as jou werkende leeftyd wees.
Vraag: Ons almal droom van aftreejare waarin ons die lewe geniet, maar die werklikheid is dat baie mense eindelik van die hand in die tand leef of van familie se gunste en gawes afhanklik is.
Hoe kan ‘n mens bereken of jou aftreespaargeld genoeg gaan wees vir ‘n kommervrye oudag?
Connie: As jou lewensverwagting nog twintig tot dertig jaar ná aftrede is, moet jy seker maak jy het omtrent R20 gespaar vir elke R1 wat jy van plan is om in een jaar te bestee. Byvoorbeeld, as jy R80 000 per jaar nodig het om te oorleef ná aftrede, moet jou pensioen en spaargeld R1,6 miljoen beloop.
Die berekening sluit egter nog nie die uitwerking van inkomstebelasting op jou kapitaal in nie. As jy ‘n jaarlikse koers van 20 persent op jou belasbare inkomste moet betaal, sal jy R25 vir elke R1 van jou jaarlikse uitgawes nodig hê—dus moet jou pensioen en spaargeld dan R2 miljoen beloop.
Dan is daar inflasie om mee rekening te hou—dit veroorsaak dat jou geld elke jaar minder koopkrag het.
Teen die huidige inflasiekoers van 4 persent per jaar, sal die R80 000 wat jy nou het, volgende jaar minder as R77 000 werd wees. Oor twintig jaar sal dit minder as die helfte van vandag se koopkrag hê. Daarom is dit belangrik dat die beleggings waarin jy jou pensioen belê, minstens tred hou met inflasie. Baie mense dink aandele is te wisselvallig en belê daarom hul aftreegeldjies in kontant.
Vraag: Wat is die beste, aandele of kontant?
Connie: Aandele groei op die lang termyn aansienlik meer as kontant. Mits jy veilig speel, verbeter jy die kanse dat jy jou spaargeld gaan oorleef.
Neem byvoorbeeld iemand wat 5 persent van sy aftreegeld per jaar onttrek om van te leef ná aftrede. As hy tussen 40 en 50 persent van sy aftreegeld in aandele belê, sal sy geld tien jaar langer hou as dié van iemand wat net tussen 20 en 30 persent van die fondse in aandele belê het.
Vraag: Wat is die grootste fout wat afgetredenes maak?
Connie: Die grootste fout wat afgetredenes maak, is om te konserwatief te belê as hulle nog ‘n lang lewensverwagting het. ‘n Belegging in die grootste aandele op die beurs, wat ‘n relatief lae risiko bied en steeds behoort te groei, sal jou vêr bring.
Vraag: Waarvan moet beleggers wegbly en waarvoor moet hulle pasop?
Connie: Bly weg van die klein aandele wat die spekulante lok.
Nog ‘n fout is om te veel aan die begin van jou aftrede te bestee. Een riglyn is dat jy nooit meer as twee persentasiepunte bo die inflasiekoers per jaar mag onttrek nie. As inflasie 4 persent is, mag jy nie meer as 6 persent van jou spaargeld per jaar onttrek nie.
Vraag: Hoe bereken jy of jy genoeg het om af te tree?
Connie: Om te bereken of jy genoeg het om af te tree, moet jy uitwerk hoeveel jaarlikse inkomste jy ná aftrede gaan nodig hê. Jou huis en motor behoort afbetaal te wees en jy gaan waarskynlik minder aan vervoer bestee, want jy hoef nie meer kantoor toe te ry nie. Jy hoef ook nie meer pensioenbetalings te doen nie en jou belastingkoers behoort laer te wees.
Vraag: Maar baie afgetredenes wil reis en het meer geld nodig, nie waar nie Connie?
Connie: Volgens ‘n verslag van Absa bestee welgestelde mense sowat 20 persent meer ná aftrede as terwyl hulle gewerk het.
In teenstelling hiermee word diegene wat finansieel sukkel, gedwing om hul begroting ná aftrede te besnoei.
Vraag: Wat is die grootste geldopvreter vir afgetredenes?
Connie: Die groot geldopvreter is gesondheidsorg. Onlangse plaaslike navorsing wys iemand wat op 65 met een afhanklike aftree, se gesondheidsorg vir die res van sy of haar lewe tot R650 000 kan beloop. Vir ‘n tagtigjarige met ‘n gade is dit sowat R250 000.
Vraag: Wat stel jy voor moet ons lesers doen?
Connie: Nadat jy bereken het wat jou jaarlikse inkomste moet wees, kontak jou pensioenfonds om vas te stel wat hul projeksie is vir die uitbetaling wat die fonds met aftrede aan jou sal maak. Daarmee moet jy ‘n pensioen koop. Werk uit hoeveel jou ander beleggings werd sal wees nadat jou skuld afbetaal is en sit dan meer geld per maand weg, indien nodig. Net 6 persent van alle Suid-Afrikaners spaar genoeg vir aftrede—maak seker jy is een van hulle.
Vraag: Om af te sluit, watter wenk kan jy ons lesers nog gee?
Connie: Maak seker dat die pensioen wat jy met aftrede koop, lewenslank uitbetaal word—anders sit jy dalk ná ‘n paar jaar sonder geld.