Leer om kop te hou met jou finansies

‘n Mens hoor dikwels hoe mense kla dat hulle nie met hulle geld kan uitkom nie en dat hulle alewig in die skuld is. Tog verdien baie van hierdie mense ‘n redelike goeie salaris, maar hulle weet nie hoe om met hulle geld te werk nie.
Finansiële dissipline is belangrik. Die beste voorneme wat ‘n mens kan hê, is om minder skuld te maak en op jou uitgawes te besnoei sodat jy nie kort voor lank in ‘n groot penarie beland nie. Begroot is die woord!

Wenk: Kry ‘n boek waarin jy al jou uitgawes neerskryf en kyk aan die einde van die maand daarna. Nou sal jy maklik kan agterkom hoeveel jy moet begroot vir kos, klere, ontspanning, telefoon, petrol en al die ander dinge wat ‘n mens nodig het. As jy nou begroot en besnoei, kan jy vanjaar teen Kersfees ‘n heerlike fees hou sonder om agterna weer in die knyp te wees.

Kredietkaarte: In die eerste plek moet mense pasop vir kredietkaarte en ander vorms van skuld maak. As jy jou kredietkaart gaan gebruik, gaan jy uiteindelik veel meer betaal vanweë die hoë rente. Baie mense het meer as een kredietkaart, of ‘n krediet-en ‘n petrolkaart. Indien jy nie jou kaartrekeninge kan betaal nie, selfs nie eens deur jou spaargeld te gebruik nie, is dit tyd dat jy jou geldsake weer bekyk. Laat liewer al die skuld oorplaas na dié kredietkaart waarvan die rentekoers die laagste is. Jy betaal dus nou net een bedrag per maand om jou verskillende rekeninge te vereffen (wat jou al klaar beter sal laat voel) en jy het boonop die goedkoopste een gekies. Raak ontslae van jou kredietkaart indien jy jou nie kan dissiplineer om net ‘n sekere bedrag per maand uit te gee nie. Die rente wat ‘n mens op kredietkaartaankope betaal, is bloedgeld.

Ken jou beperkings: Dit is dikwels die geval dat mense bo hul vermoëns probeer leef, net om nie by hul bure of vriende af te steek nie. Het jy regtig daardie duur, nuwe motor nodig of kan jy vir nog ‘n paar jaar met jou bestaande motor regkom? Is al daardie luukshede werklik nodig. Wie wil jy dan graag beïndruk? Is al daardie luukshede die moeite werd as jy dan nagte gaan wakkerlê van al die skuld wat jy gemaak het en jare gaan sukkel om dit afbetaal te kry?

Kersgeskenke en aankope: Maak ‘n lys van almal vir wie geskenke gekoop moet word – so sorg jy dat jy nie op die nippertjie ten duurste by die apteek of die geskenkwinkel moet gaan aanklop nie. Begroot hoeveel geld jy aan elke persoon gaan bestee en hou daarby. Koop ook geskenke vroegtydig – geskenke is dikwels goedkoper hoe vroeër jy dit koop. Kyk ook uit vir spesiale aanbiedinge en koop en bêre geskenke vroegtydig. Vra jou af of jy ‘n item werklik nodig het voordat jy dit in jou mandjie sit. Moenie meegesleur word en halsoorkop begin koop nie. Hou by jou inkopielys. Dink mooi voordat jy gaan geld trek by die kitsbank. Dit help net mooi niks as jy vandag net genoeg geld trek vir dit wat jy vandag nodig het nie, as jy weet jy moet môre petrol ingooi en haarkapper toe gaan nie. Trek eerder die ekstra geld en bêre dit op ‘n veilige plek, sodat jy dit more kan gebruik. Anders betaal jy bankkoste vir twee onttrekkings in plaas van net een.

Geriefskaarte: Kyk ook mooi of die gerieflikheid van byvoorbeeld ‘n garagekaart werklik die moeite werd is. Byvoorbeeld: as jy ‘n garagekaart het, betaal jy heel waarskynlik R250 per jaar vir die voorreg, sowel as ongeveer R10 per keer wat jy dit gebruik. Jy kan soveel as R500 ‘n jaar bespaar deur nie ‘n garagekaart te hê nie.

Wenk: Stel ‘n lys op en werk uit wat jy gaan nodig hê. Kyk uit vir spesiale aanbiedinge. Baie winkels het dié tyd van die jaar spesiale aanbiedinge vir veral koeldrank en kos. Koop drank in kiste. Dit werk baie goedkoper uit as wanneer jy wyn per bottel aanskaf, en wat oorbly kan jy as geskenke gebruik. Koop die vleis in groot maat en neem koeldrank saam. Dinge soos melk, brood en vars groente en vrugte kan wel by jou vakansiebestemming gekoop word.

Dis deesdae ook heeltemal aanvaarbaar om te vra dat familie wat by julle kom eet en kuier, tot die eet-en drinkgoed sal bydra. Besluit vooraf wie is waarvoor verantwoordelik.

Kitsbanke: Wees veral bedag wanneer jy ‘n kitsbank gebruik. Dit is veral in besige winkelsentrums waar misdadigers daarop uit is om niksvermoedende kitsbankgebruikers om die bos te lei, welwetende dat verbruikers dié tyd van die jaar op hul inkopies konsentreer. Verbruikers moet in geen omstandighede hul PIN aan iemand gee of dit op ‘n stukkie papier neerskryf of dit op ‘n selfoon intik nie. Nie eens familielede, vriende of bankamptenare mag weet wat jou PIN is nie. Probeer om so naby moontlik aan die kitsbank te staan en jou liggaam as ‘n skans te gebruik wanneer jy jou PIN intik, sodat ander mense nie jou nommer kan sien nie. Misdadigers gebruik dikwels selfoonkameras om foto’s van jou kaart en PIN te neem. Sleutel slegs jou PIN in as die kitsbank jou vra om dit te doen. Moet ook nie goedsmoeds hulp aanvaar van ‘n omstander nie. Misdadigers kan jou aandag aftrek terwyl jy jou PIN intik en jou kaart dan met ‘n ander kaart omruil. Kanselleer dadelik jou kitsbankkaart as dit gesteel is of as die kitsbank dit ingesluk het deur die tolvry nommer te skakel wat op die kitsbank verskyn. Meld ook enigiets verdags by ‘n kitsbank aan deur die polisie of die bank se anonieme bedroglyn te bel.