Praktiese finansiële bestuur
Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.
Vraag: Die bult waarteen die besigheidswa uitgesleep moet word, is maar steil deesdae met die ekonomie wat soos ’n lastige remskoen alles stadiger laat gebeur, pryse wat die hoogte inskiet en rentekoerse wat hemelhoë eise aan jou geldlaai stel. Wat kan jy doen om jou onderneming oor hierdie bult te kry?
Connie: Praktiese finansiële bestuur is uiteraard nodig, maar dit wat in ’n mens se kop aangaan is net so belangrik as om sommetjies te maak.
Sommetjies alleen kan jou negatief maak, kry dus eers jou kop skoon. My eerste stukkie raad is om nie in sak en as te gaan sit nie. Van sit gaan geen onderneming oorleef nie. Met ’n negatiewe ingesteldheid ook nie.
Vraag: Wat is die eerste belangrike ding om te doen?
Connie: Die eerste belangrike ding is om die situasie te aanvaar. Daar is niks wat ek en jy daaraan kan doen nie. Nie deur daaroor te kla nie en nie deur dit te ignoreer nie. Aanvaar dit.
As ’n sneeustorm my in die hoë berge tref, aanvaar ek dit en leef daarmee saam. Doen wat jy moet doen om te oorleef en wag vir die mooi weer.
Jou onderneming moet ook oorleef, in ’n bietjie anderse konteks, maar basies dieselfde reël.
Ons weet nie hoe lank die storm gaan duur nie, daarom is dit nou tyd om die gordel stywer te trek en klaar te kom met wat jy het. ’n Mens kán aanpas, jy kán oorleef en jy kán steeds jou sakedoel bereik deur eenvoudig nie toe te laat dat dinge buite jou beheer jou lewe reël en jou onderkry nie. Fokus op jou doelwitte en jy sál oor die probleem kom.
Vraag: Wat dan van kliënte?
Connie: Pas jou kliënte op. Doen meer moeite as ooit tevore. Probeer bietjie van die koste self absorbeer eerder as om dit dadelik na jou kliënte toe deur te gee.
’n Familielid het doelbewus as deel van sy sake-strategie sy wins-rieme só gesny, dat hy min of meer net-net kan oorleef.
Nie net behou hy al sy kliënte nie, hy laat sy kliëntebasis byna daagliks groei.
Vraag: Wat is die gevolg?
Connie: Die gevolg? Hoewel sy winsmarges laer is, is sy omset hoër, in teenstelling met die meeste ander ondernemings vandag. Wanneer dinge begin beter gaan, is hy boonop al sy mededingers voor wat bemarking betref. En solank as wat sy produk goed is, gaan hulle by hom bly. Moenie die lojaliteit van kliënte onderskat nie. Dit is nou die tyd om terug te keer na jou kernsake. In die goeie tye raak ons almal gewoond daaraan om die vlerke te sprei en so ’n bietjie vet af te skep op plekke waar ons net ’n sydelingse belang het. Laat staan liewer die vetjies, fokus op jou kernsake, wat dit ook al is. Kyk ook waar jy kan besnoei op oorhoofse koste.
Vraag: Wat is die beste manier om eerlike antwoorde hier te kry?
Connie: Die beste manier om eerlike antwoorde hier te kry, is om jou uitgawes te gaan lys, soos wat jy ’n begroting opstel, maar met die verskil dat jy gaan kyk, waar jy kan afhaal en nie waar jy kan uitgee nie. Werk in die negatief, trek af, verwyder. Maak jou onderneming so skraal as wat jy kan.
Moenie jou werknemers vergeet nie. Ek kan dit nie oor my hart kry, om aan te beveel dat ’n mens werknemers afdank nie. Dit is immers hulle wat die wiele aan jou sake-sukses voorsien. Deel eerder jou probleme en planne met hulle.