Raad rakende testamente

Kom om ons wees maar eerlik…nie een van ons hou daarvan om aan die dood te dink nie. Soos belasting, is dit ongelukkig ‘n werklikheid.

Connie Bruwer, Besturende Direkteur van P C Bruwer en Vennote, en ook ‘n deskundige op die gebied van testamente, bied hieronder ‘n uiteensetting van die belangrikheid en die regte manier om jou testament te beplan en op te stel.

Jou testament: Die belangrikste dokument in jou boedelbeplanning

Jou testament is die belangrikste dokument in jou boedelbeplanning. Dit meld hoe en aan wie jou besittings verdeel sal word, wanneer jy tot sterwe kom. In die testament moet daar baie duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit word aan wie jou bates bemaak gaan word. Daar moet geen ruimte vir dubbelsinnigheid of onduidelikheid wees nie, aangesien dit die dokument wat die meeste betwis word in die hof.

As gevolg hiervan, sal jou testament met baie duidelikheid uiteengesit moet word. Stel so gou as moontlik ‘n testament op as jy nog nie ‘n geldige testament het nie, ten einde jou gesin baie hartseer en ellende te bespaar.

Dit is ook baie belangrik om gereeld jou testament op te dateer en te hersien. Jy behoort jou testament gereeld te hersien wanneer jy:

  • Trou of weer trou;
  • ‘n Kind kry of aanneem;
  • Eiendom of ‘n sakeonderneming koop of verkoop;
  • Jou lewensversekering aanpas;
  • Emigreer;
  • ‘n Eggenoot deur die dood verloor.

Basiese riglyne

Bewoord die testament op so ‘n wyse dat dit nie met elke kind of kleinkind se geboorte of afsterwe verander moet word nie. Gebruik algemene terme van beskrywings om te verhoed dat daar met elke koop of verkoop van items aan die testament verander word.

  • Mense wil dikwels weet hoe mense wat minderjarige kinders het hulle testament kan opstel ten einde hul kinders se erflating te beskerm. Die beste oplossing vir ouers met minderjarige kinders is om ‘n testamentêre trust vir sulke kinders te stig, waarvan die kinders die begunstigdes is en die trustee van die trust die belange van die kinders beskerm. Die trustee is die persoon wat in belang van jou kinders gaan optree en die geldsake van die trust hanteer. Die bates en kontant in die trust kan realiseer wanneer jou kinders die ouderdom van 21 jaar bereik of op ‘n ouderdom soos deur die testateur of testatrise verkies, wat net nie minder as 21 jaar moet wees nie.
  • Waar minderjarige kinders ter sprake is, is dit ook belangrik om te bepaal wie die kinders se voog gaan wees in geval van jou en jou eggenote se gesamentlike afsterwe.
  • Benoem ‘n eksekuteur in jou testament. Die eksekuteur is die persoon wat seker maak dat al die wetlike en finansiële aspekte rakende jou testament volgens jou wense uitgevoer word. Hulle werk nou saam met die Meester van die Hooggeregshof, banke, versekeringsmaatskappye, rekenmeesters, prokureurs en begunstigdes. Ons kry talle navrae oor mense wat wil weet wat ‘n persoon kan doen om te verseker dat hy nie ‘n verkeerde keuse maak by die aanstelling van ‘n eksekuteur nie. Daar is verskeie keuses wat hulle kan toepas. As hulle nie iemand kundigs het wat hulle kan vertrou met hulle bates nie, kan hulle hul meerderjarige kinders aanstel as eksekuteur en ‘n kundige aanstel as die beredderaar van die boedel, wat al die werk verbonde aan die afhandeling van die boedel sal doen. Die kinders wat eksekuteur is moet nog steeds die dokumente teken, soos die likwidasie en distribusierekening wat by die Meester van die Hooggeregshof ingedien word. Die eksekuteur kan met die beredderaar ooreenkom oor ‘n fooi wat die beredderaar sal vra om die boedel af te handel.
  • Persone kan ook aanvanklik ‘n kundige aanstel as eksekuteur en beredderaar van hulle boedel, waar kinders nie in dieselfde stad woon as die ouers nie. Dit skep dit probleme wanneer die boedel afgehandel moet word, aangesien daar dokumente is wat geteken moet word en vertraag dit die afhandeling van die boedel.
  • Dit is belangrik om daarop te let dat ‘n eksekuteur en beredderaar van ‘n boedel onder beheer is van die Meester van die Hooggeregshof, wat die belange van die oorledene en die erfgename beskerm. Dit kan ook beter wees om ‘n buitestaander aan te stel as eksekuteur, waar daar dispute tussen die kinders of erfgename sou ontstaan.
  • Dit is belangrik om daarop te let, dat egtliede getroud binne gemeenskap van goedere ‘n gesamentlike testament opstel. As een van die egtliede te sterwe sou kom, is dit belangrik dat die langslewende ‘n testament moet opstel. As die langslewende te sterwe sou kom sonder ‘n geldige testament word dit beskou asof hy intestaat gesterf het, met ander woorde sonder ‘n testament en veroorsaak dit dat die oorledene se wense nie nagekom kan word nie. Dit beteken ook dat die eksekuteur sekuriteit moet lewer, indien hy nie ‘n familielid van die oorledene is nie.

Die volgende aspekte behoort nie in jou testament behandel te word nie:

  • Instruksies vir die begrafnis of verassing van die oorledene se oorskot. Dit maak sin aangesien die testament gewoonlik nie gelees word voor na die begrafnis of verassing nie. Bogenoemde inligting behoort in ‘n brief opgeneem te word, waarin jou “laaste wense” uiteengesit word.
  • Spesiale prokurasie.
  • Enigiets waarin jy jouself weerspreek. Weersprekende boedelinstruksies kan in ‘n hof gebruik word om jou testament ongeldig te verklaar. 
  • Indien jy sonder ‘n testament te sterwe kom, sal die landswette bepaal wat van jou besittings gaan word. Jy sal dus intestaat sterf, wat eenvoudig beteken “sonder enige wettige testament”. In hierdie geval tree die instestate erfregreëls in werking.
  • Hou jou testament op ‘n veilige plek en hersien dit gereeld.
  • ‘n “Lewende testament” kan jou gesin van ‘n baie moeilike keuse bespaar in die geval waar jy moontlik in ‘n ongeluk was of ‘n siekte opgedoen het en jy bewusteloos is en nie in staat is om laaste sake af te handel nie. Hierdie lewende testament sal bepaal of jy kunsmatig aan die lewe gehou moet word deur middel van masjiene soos respirators en buisvoeding of nie. Dit is egter belangrik om daarop te let dat daar slegs twee gevalle is waar ‘n dokter toestemming het om ‘n persoon kunsmatig aan die lewe te hou of dit te stop.

Vir meer inligting oor testamente en die opstel daarvan, kan u gerus vir Connie Bruwer of Ansja Ferreira, deskundiges op die gebied van testamente en boedelbeplanning, kontak by P C Bruwer en Vennote.