Risiko Bestuur

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

 

Vraag:  Wat is risiko?

Connie:  Ons het onlangs ’n bietjie na die konsep van risiko gaan kyk. Volgens Investopedia begin die definisie van risiko met: “Die kans dat ’n belegging se werklike opbrengs anders is as verwag …”  Ons almal weet wat het die afgelope tyd in die beleggingsmarkte gebeur. En dit was nie goed nie. Van die residensiële eiendomsmark tot by staatseffekte en selfs internasionale beleggings het swaargekry. Om nie eens van die aandelemark te praat nie.  Ek dink in die volksmond praat ons van die risiko van belegging as dit in die beleggingsomgewing begin sleg gaan. Daar is volgens beleggers nie risiko as pryse begin styg nie.   Dink net hoe gretig was mense om so twee jaar gelede in nuwe meenthuisontwikkelings te belê. Toe het dit net gegaan oor die opbrengs en vinnige groei wat uit die belegging gehaal kon word.

 

Vraag:  Hoe word ‘n belegging in maatskappye deur middel van die aandelebeurs beskou?

Connie:  Daar word algemeen aanvaar dat ’n belegging in maatskappye deur middel van die aandelebeurs riskant is, maar dat ’n belegging in die geldmark of in ’n vaste deposito risikovry is.  Dít is egter nie ’n universele waarheid nie. Alles hang af van die doel van die belegging en wat die belegger verwag het.

 

Vraag:  Waarom is dit so?

Connie:  Indien die doel of verwagting van die belegger was om byvoorbeeld ’n reële (hoër as inflasie) opbrengs te verkry is die risiko (kans) baie groot dat ’n belegging in die geldmark ná koste en belasting oor ’n tydperk nie ’n reële opbrengs, beter as inflasie, gaan behaal nie. Trouens, mense loop met oop oë in ’n strik in.  Indien ’n belegger egter ’n langtermynoogmerk het (soos ’n jong belegger wat spaar vir aftrede of ’n gedeelte van ’n afgetredene se neseier) en ’n bedrag geld in ’n gediversifiseerde portefeulje van maatskappye van ’n hoë gehalte op die aandelebeurs belê, is die risiko dat die belegging mettertyd nie ’n reële opbrengs gaan lewer nie, baie skraal.  Oor ’n lang tydperk, en in dié geval die afgelope 20 jaar of meer, het die aandelebeurs ’n reële opbrengs van 7% per jaar behaal, teenoor die geldmark wat ’n voorbelaste 1% reële opbrengs behaal het.

 

Vraag:  Watter risiko dra die geldmark nog?

Connie:  Die geldmark dra ook herbeleggingsrisiko, wat beteken as jy jou geld vir ’n tydperk van byvoorbeeld vyf jaar in ’n gewaarborgde portefeulje belê, kan jy nie weer ’n goeie koers kry waarteen jy dit kan herbelê teen die dag dat die belegging uitbetaal word.

Inflasie kan gedurende die tydperk toeneem en rentekoerse verder verhoog wat vinnig ’n aantreklike gewaarborgde koers onaantreklik kan maak.

As jy egter in daardie tydperk aandele gekoop het, wat ’n groeiende dividendstroom betaal, word die kontantinkomste op jou aanvanklike belegging net al hoe groter vir ’n onbepaalde tydperk.

Indien ’n belegger vir ’n kort tydperk ’n bedrag wil belê, omdat hy byvoorbeeld kontant uit die verkoop van ’n bate ontvang het en dit ses maande later weer moet aanwend vir die aankoop van ’n ander bate, is daar baie min (indien enige) risiko dat hy in die geldmark aan die einde van die tydperk ’n kapitaalverlies sal ly. Aan die ander kant is die risiko dat ’n belegging in die aandelebeurs oor ’n kort tydperk, geen of selfs negatiewe opbrengs kan behaal, daadwerklik.

 

Vraag:  Wat is dus belangrik om in gedagte te hou?

Connie:  Alles hang dus af van hoe jy jou posisioneer, wat die doelwit van die belegging is en hoeveel tyd jy aan jou kant het. Vir een belegger kan die geldmark risiko-vry wees, maar vir ’n ander belegger hou dit weer ‘n risiko in. Gewoonlik is die optimale oplossing een wat ’n belegging in die aandelebeurs, geldmark en ander bates kombineer.

 

Vraag:  Wat is die goue reël dus?

Connie:  Die goue reël is weer die voorafstelling van doelwitte en die bepaling van ’n strategie oor hoe om die gestelde doelwitte te behaal.

Die manier om risiko te vermy is dus nie om aandele te vermy nie, maar om te verstaan hoe verskillende beleggings werk. As jy verstaan dat die prys vir reële groei op lang termyn altyd ’n tydstip van korttermyn-wisselvalligheid het, sal die opbrengs volgens jou verwagting behaal word en dan kan jy snags gerus slaap.