Sosiale Media Etiket

Lynne Landman van Z PR Marketing & Digital Marketing gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

 

Sedert die bekendstelling van Facebook in 2004 en X (voorheen Twitter) in 2006, maak mense al meer gebruik van sosiale netwerke vir kommunikasie met vriende en familie.  Net soos met enige ander medium, het sosiale netwerke ook ‘n spesifieke etiket waaraan mens moet gehoor gee.

Dit maak nie saak hoe gesofistikeerd jy dink jou gebruik van sosiale media is nie – ‘n mens moet altyd bewus wees van die wat reg en wat verkeerd is. Dis baie maklik om iets te pos op Facebook of ‘n tweet te stuur op X, maar dis nie so maklik om die gevolge daarvan vooruit te skat nie.

As mens moet begin kyk na hoeveel potensiele mense jou kommentaar op sosiale netwerke kan raaksien, sal jy redelik verbaas wees. Neem Facebook en X as voorbeeld, vermenigvuldig die aantal vriende wat jy op jou sosiale netwerk het met jou vriende se persoonlike en besigheidskontakte op hul sosiale netwerk, en jy sal ‘n idee kry hoeveel mense in werklikheid dalk jou “post” kan raaksien.

In die algemeen is daar ‘n paar wenke wat om te doen en wat om nie te doen wanneer jy op sosiale netwerke is. Dit is ook veral relevant as jy in die besigheidswêreld staan of as jy vir ‘n nuwe pos aansoek doen.

 

Wat om nie te doen nie:

  • Moet nooit sensitiewe of private inligting deel wat jy nie wil laat uitkom nie. Die probleem met ‘n sosiale netwerk is dat dit in die openbare oog is, maak nie saak hoe veilig jy jou Facebook of X blad gemaak het nie. Dit kan altyd uitkom. Die beste wenk hier is om eerder nie inligting te deel wat nie oor jou gaan nie.
  • Wees ongelooflik versigtig watter tipe inligting jy deel op Facebook of X en ook jou taalgebruik. Byvoorbeeld – ‘n persoon het gegaan vir ‘n werksonderhoud, die pos gekry, maar net daarna op Facebook vertel van hoe dronk hy die vorige aand was en met watter babelas hy die eerste dag werk toe sal gaan. Die persoon se werksaanbod is onttrek.
  • Wanneer jy vir ‘n besigheid werk, word jy gekoppel aan daardie besigheid, maak nie saak of dit in jou private hoedanigheid is nie. As jy vloek en lelik praat, word jy gekoppel aan jou besigheid – veral as die in die openbare oog is. Sosiale media soos X en Facebook plaas jou in die openbare oog, so wees baie versigtig.
  • Die speletjies wat beskikbaar is op Facebook kan jou ook in groot moeilikheid laat beland by jou werkgewer. Dit is nie goeie etiket om sulke speletjies te speel in werkstyd nie. Alhoewel jy dink dat niemand dit kan sien nie, is daar tog maniere wat jou werkgewers dit sal kan sien, en dan is jy in groot moeilikheid.
  • Jy moet baie versigtig wees oor wat jy op jou sosiale netwerk of Facebook muur oor jou werkgewers, kollegas of vriende skryf, al is dit in ‘n privaat boodskap. Volgens die wet kan selfs private boodskappe openbaar gemaak word, sou dit nodig wees. Baie mense wil soms ‘n uitlating maak oor hul werkplek of werkgewer, maar negatiewe kommentaar kan jou ‘n skriftelike waarskuwing of ‘n afdanking besorg.
  • Dit is ook onvanpas om neerhalende opmerkings te maak oor kliënte op sosiale netwerke. Daar gebeur dalk gereeld snaakse kliënte stories, maar die deel daarvan op sosiale netwerke is taboe. Byvoorbeeld as jy werk doen vir ‘n maatskappy wat kaas vervaardig, en jy dink baie min van die spesifieke kaas en die kliënt, hou dit vir jouself . Baie kliënte het “trackers” op sosiale media, wat beteken dat elke keer as jy hulle noem in welke hoedanigheid, hulle dit sal optel en ondersoek. Dieselfde geld ook vir jou kompetisie – neerhalende kommentaar is taboe.
  • Voordat jy ‘stuur ‘ druk op ‘n sosiale media of kommunikasie medium, vra jouself of jy sal omgee om die boodskap te sien op die voorblad van ‘n bekende koerant soos die ‘New York Times’. Moet nie enigiets wat ‘ n verleentheid vir jouself of vir ander kan wees, stuur nie.
  • Moet nooit iets skryf uit woede, hoogdawerende emosies of oor ‘n persoonlike vendetta nie. ‘n Mens moet nooit jou vuil wasgoed in die openbaar ophang nie. Enige sosiale media medium is oop vir die publiek en niks word geag as privaat nie. Byvoorbeeld, ‘n bitter hartseer broer skryf oor sy suster se afsterwe, wat op ‘n kontroversionele manier gebeur het en plaas dit op Facebook om met sy vriende te deel. ‘n Bekende koerant tel die plasing op en skryf ‘n storie in die koerant waarin die broer se boodskap herhaal word.

 

Wat is vanpas?

  • Positiewe stories oor werkgewers, kollegas, kliënte en projekte is aanvaarbaar. Maak net seker dat jy nie iets wat privaat is deel nie. Die deel van iets positiefs skep ‘n goeie gevoel tussen jou en jou besigheid.
  • Voel vry om jou werkgewer te prys op sosiale media. Dit dra die boodskap oor dat jy trots is om vir jou werkgewer te werk.
  • Maak seker jou spelling en taalgebruik is ook reg wanneer jy iets wil pos. Dit skep ‘n slegte indruk wanneer SMS taal of verkeerde spelling gebruik word op sosiale media.

 

Algemene besigheidswenke:

  • Moet nooit vir ‘n klient beloftes maak wat jy nie kan hou nie.
  • As jy vir iemand gesê het jy sal ‘n kwotasie doen binne ‘n uur of hom/haar terugskakel, doen dit. Daar is niks meer irriterend vir ‘n kliënt om agter jou aan te skakel nie.

 

Vir meer inligting rakende sosiale media  of enige ander bemarkingsdienste, besoek Z PR se webwerf by www.zpr.co.za of  epos marketing@zpr.co.za.