Trou is nie perdekoop nie
Deur Ansja Ferreira
“Die huwelikskontrak is gewoonlik die mees oninteressante en mees irriterende deel van die voorbereiding van die huwelik, veral as dit met rokpas, haarkapstyle of troujuwele vergelyk word. Nogtans, is dit naas die foto’s en herinnerings, omtrent al wat na die tyd oorbly van die vreudevolle dag, vertel Erik Botes, ‘n prokureur.
Erik verduidelik dat vir die eerste keer die meeste paartjies in die situasie gestel word van:
‘Wat as…? Waar staan hulle finansieel teenoor skuldeisers, na die troue? Waar staan die jong vroutjie wat haar loopbaan tydelik opsy skuif om die kinders in die wêreld in te bring en te versorg? Wat word van die besittings of eiendom wat hulle van ma of pa mag erf? Wat is die implikasies wanneer een van hulle ‘n besigheidjie begin? Wat van hulle bestaande boedels voor die huwelik? Kan die een iets koop vir hom- of haarself, sonder die ander se toestemming? Wat van kontrakte, wat net deur die een of die ander geteken is? Sal dit geldig wees?
Hy noem ook verder dat die meeste predikante, pastore, priesters en ander huweliksbevestigers daarop sal aandring dat ’n paartjie hulle voorsien van die nodige sertifikaat van ‘n notaris, wat bevestig dat hulle reeds ‘n prokureur gekonsulteer het .
“Dit hoef nie noodwendig ‘n slegte ervaring te wees nie en uit ervaring , kan ons sê dat die meeste paartjies gewoonlik verlig wegstap van die prokureur se kantoor, sê Erik. Hoe dit ook al sy, sorteer hierdie sensitiewe aspek so gou moontlik met behulp van u prokureur uit, beveel Erik aan.
Wat is die doel van ‘n huwelikskontrak
“Die doel van ‘n huwelikskontrak is eenvoudig om die man of vrou finansieël enersyds, teen sy of haar gade en andersyds, teen skuldeisers te beskerm, verduidelik Erik. “Normaalweg beveel ons aan dat jong voornemende gades, wat aan die begin van hul loopbane staan, trou buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling. “Wanneer hierdie tipe kontrak opgestel word, is dit veral belangrik om te weet wat die partye se onderskeie boedels- wat gewoonlik aftreeannuiteite of pensioene insluit, werd is op datum van die huwelik.
Die drie soorte huweliksvorme
‘n Huwelik binne gemeenskap van goedere
“Wat myne is, is joune en wat joune is is myne”.
Huwelike sonder ‘n huweliksvoorwaardekontrak in Suid-Afrika het outomaties ‘n huwelik binne gemee
nskap van goedere tot gevolg. Die paartjie se bates val binne ‘n gesamentlike of gemeenskaplike boedel, vandaar die naam “huwelik binne gemeenskap van goed”. Wanneer die huwelik beïndig word, hetsy deur egskeiding of dood, word die gesamentlike boedel gewoonlik gelykop verdeel. ‘n Nadeel is dat die een party vir ‘n ander een se skulde verantwoordelik gehou kan word.
“Dit is belangrik om daarop te let, dat egtliede getroud binne gemeenskap van goedere ‘n gesamentlike testament opstel, beklemtoon Connie Bruwer, ‘n boedelkenner. “As een van die egtliede te sterwe sou kom, is dit belangrik dat die langslewende ‘n testament moet opstel. As die langslewende te sterwe sou kom sonder ‘n geldige testament word dit beskou asof hy intestaat gesterf het, met ander woorde sonder ‘n testament en veroorsaak dit dat die oorledene se wense nie nagekom kan word nie. “Dit beteken ook dat die eksekuteur sekuriteit moet lewer, indien hy nie ‘n familielid van die oorledene is nie. By afsterwe geniet die gesamentlike boedel ‘n vrystelling van R7 miljoen
‘n Huwelik buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling
“Wat myne is is myne en wat joune is is joune”
Albei gades behou hul eie boedels wat laste en bates insluit. Elkeen kan met sy bates maak wat hy of sy wil. Partye is nie vir mekaar se skuld aanspreeklik nie, behalwe indien hulle miskien oor en weer vir mekaar borg geteken het. Indien een van hulle te sterwe sou kom, word net die oorlede persoon se boedel onder die administrasie van ‘n Eksekuteur geplaas en beredder deur die eksekuteur. Erik beveel aan dat ouer voornemende gades wat op die punt is om in ‘n tweede of derde huwelik te tree, dalk meer baat mag vind uit ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere, sonder die aanwasbedeling. In hierdie gevalle is dit meestal die geval dat die kinders aan beide kante reeds groot is en die partye ver gevorderd is in hul onderskeie loopbane. Egpare waar albei gades belange in besighede het, kies ook dikwels om buite gemeenskap van goedere te trou en dan hul gesamentlike boedelbeplanning deur testamente of trusts te behartig. Wanneer ‘n man byvoorbeeld voltyds werk en sy vrou ‘n paar jaar nie kan werk nie, omdat sy kinders in die lewe gebring het, en die huishouding en kinders gedurende daardie tydperk moes versorg, sal die vrou in die huwelik nie baat, deur ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere aan te gaan nie, aangesien sy nie die verdieningsvermoë van haar man gaan hê nie. Sy sal waarskynlik eerder baat by ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling. In geval van buite gemeenskap van goedere is daar by afsterwe ‘n R3,5 miljoen vrystelling vir elkeen van hulle. Paartjies wat buite gemeenskap, sonder die aanwasbedeling getroud is, stel normaalweg aparte testament op. Gestel albei gades kom gelyktydig te sterwe, erf die kinders dus effektief R7 miljoen meer, indien die boedel so groot sou wees.
Buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling
“Wat ons elk voor die huwelik gehad het, is ons eie, maar wat ons saam opgebou het gedurende die huwelik, is ons albei s’n”.
Hierdie bedeling is ‘n gewilde keuse vir paartjies wat vir die eerste keer trou en nog nie groot en waardevolle boedels bymekaar gemaak het nie. Die meeste voordele en nadele van die ander twee huweliksbedelings word gekombineer by ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling. Hierdie is ‘n goeie opsie vir ‘n paartjie wat nog met ‘n gesin wil begin. Die vrou gaan waarskynlik nie betaling ontvang om na die kinders om te sien nie en die man hou aan werk en verdien ‘n salaris. Die vrou het waarskynlik geen bates wat groei nie
Wat beteken die aanwas? Gedurende die huwelik behou elke gade sy of haar eie boedel. Wanneer die boedel egter deur dood of egskeiding ontbind word, mag een van die gades ‘n eis op aanwas teen die ander gade se boedel hê. Die aanwas van ‘n gade se boedel is die bedrag waarmee die netto eindwaarde van sy of haar boedel, by die ontbinding van die huwelik, die netto aanvangswaarde van die boedel by die aanvang van die huwelik oorskry. By ontbinding van die huwelik word die aanwas van elkeen van die gades se boedels bereken en die gade wie se boedel die minste aanwas getoon het, kan dan ‘n eis instel teen die ander gade se boedel. Eenvoudig gestel, kan ‘n aanwas bereken word deur die beginwaarde van elkeen se boedel te neem, die eindwaarde te neem en te bereken hoeveel elkeen se boedel gegroei het. Die verskil in groei word dan in die helfte gedeel en die gade met die meeste groei, sal die ander gade vergoed.
Wat word uitgesluit by aanwas? Erflatings, donasies, skadevergoeding en wengeld (gestel jy wen die lotto) word uitgesluit by die aanwas.
Wenke:
Laat stel jou voorhuwelikse kontrak voor jou huwelik op. Agterna kan dit slegs verander word deur ‘n bevel van die Hooggeregshof, wat jou heelwat duurder gaan kos.
Gaan spreek ‘n prokureur. Dit is die prokureur se werk tydens die konsultasie om die paartjie oor al die voordele en nadele van die verskillende huweliksvorme in te lig en sal die beste opsie verskil van paartjie tot paartjie. Volgens Erik sal die volle konsultasie selde langer as ‘n uur en ‘n half duur.
Laat stel jou testament op deur ‘n kundige. Indien jy sonder ‘n testament te sterwe kom, sal die landswette bepaal wat van jou besittings gaan word. Jy sal dus intestaat sterf, wat eenvoudig beteken “sonder enige wettige testament”. In hierdie geval tree die instestate erfregreëls in werking.
Jou testament is die heel belangrikste dokument in jou boedelbeplanning. Dit meld hoe en aan wie jou besittings verdeel sal word, wanneer jy tot sterwe kom. In die testament moet daar baie duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit word aan wie jou bates bemaak gaan word. Daar moet geen ruimte vir dubbelsinnigheid of onduidelikheid wees nie, aangesien dit die dokument is wat die meeste in die hof betwis word. As gevolg hiervan, sal jou testament met baie duidelikheid uiteengesit moet word. Dit is van die grootste belang dat jou testament in skrif is en tegnies korrek opgestel word, verkieslik deur ‘n deskundige op die gebied. Die testament moet ook op elke bladsy onderteken word en die datum moet op die testament aangebring word. Twee bevoegde getuies, wat nie in die testament genoem of erfgename is nie, moet ook die testament op elke bladsy teken. Onthou dat mondelingse wense en beloftes geen wetlike invloed of gevolg het nie. Stel dus so gou as moontlik ‘n testament op as jy nog nie ‘n geldige testament het nie, ten einde jou gesin baie hartseer en ellende te bespaar. Jou testament behoort op ‘n veilige plek bewaar te word.
Bronne: Wet op Huweliksgoedere, 1984 (Wet 88 van 1984) (Matrimonial Property Act no. 88 of 1984)
Bestorwe boedels. 5de Uitgawe W Abrie, C R Graham, M C Schoeman-Malan, P de W van der Spuy