Tuisblyma:  word jy na jou waarde geskat? 

Die werk wat jy doen is R450 000 per jaar werd. Versekering vir tuisteskeppers is noodsaaklik

 deur Ansja Ferreira

 

Sy noem haarself ‘n tuisteskepper, tuisbly-ma, hoof huishoudelike beampte of doodeenvoudig huisvrou.  Sy staan voor al die ander in die huis op, is heeldag op haar voete en gaan slaap heel laaste elke aand.  Sy werk elke dag lang ure en doen die ekwivalent van vier of meer voltydse werke.  Sy ontvang nie ‘n salaris nie, maar tog is sy van onskatbare waarde.

Gert is die direkteur van ‘n groot maatskappy.  Sy vrou, Hettie, het haar beroep as onderwyseres tydelik opgegee na die geboorte van hul drie kinders, ouderdomme 12, 8 en 3.  Sy is nou voltyds ma en tuisteskepper en het nie ‘n huiswerker wat haar kan help nie.  Sy doen al haar huiswerk self, ry die kinders rond na hul onderskeidelike skole en buitemuurse aktiwiteite.  Ook sorg sy dat daar elke aand ‘n gekookte bord kos of een of ander uithaalgereg vir haar gesin op die tafel is.  Met spesiale geleenthede onthaal sy ook graag en berei alles self voor.  Haar man en kinders se kosblikke word elke dag gepak en hul klere word gewas en sorgvuldig gestryk en weggepak.  Boonop help sy elke middag haar kinders met hul huiswerk, hou sorgvuldig boek van al die huishoudelike uitgawes en bestuur haar huishouding met ‘n ysterhand.  Die tuin, swembad en aanbouings kry ook aandag.  Wanneer een van haar kinders seerkry of een van haar kinders of man siek is, staan Hettie gereed om hulle te versorg en te verpleeg.  As haar man of kinders ‘n slegte dag gehad het, is Hettie gereed om hulle te troos en op te beur.  Hettie speel ook die rol van ‘n binneshuise versierder en gebruik haar kreatiewe talent om die huis te versier.  Klein herstelwerkies in die huis word deur haar gedoen en sy weet wie om te kontak indien sy self nie die probleem kan oplos nie.  Sy is ook verantwoordelikheid vir die troeteldiere se versorging en welstand.  Hettie ontvang geen vergoeding vir al hierdie werk wat sy doen nie en alhoewel daar vir haar man, die broodwinner ‘n groot bedrag lewensversekering uitgeneem is om vir die gesin voorsiening te maak vir wanneer hy nie meer daar is nie, is die bedrag waarvoor haar lewe verseker is, maar klein as ‘n mens kyk wat sy elke dag doen.

“Ek voel dikwels waardeloos omdat ek nie ‘n salaris verdien nie, maar ek en Gert het al saam gesit en sommetjies maak en bereken dat ek nie veel van ‘n salaris gaan oorhê nadat uitgawes wat dit vir my moontlik sal maak om te werk soos dagsorg, professionele werksklere, vervoerkoste na my werk, ‘n voltydse huiswerker, wegneemetes en ‘n au-pair om kinders rond te ry afgetrek is nie” sê Hettie.

‘n Tuisteskepper speel verskillende rolle en sluit dit onder meer die volgende in:

  • ‘n Huiswerker wat voltyds werk, se salaris kan maklik tussen R2 000 en R3 000 per maand beloop.  ‘n Huiswerker wat ook naweke en oortyd werk, kan maklik tot R4 500 per maand verdien.
  • Kinderoppasser of au pair kan wissel vanaf R4 500 tot R8000 per maand en self meer wees.   Uurlikse lone kan wissel tussen R35 en R80 per uur.
  • ‘n Tuisverpleegster, ondersteunende onderwyser, troeteldierversorger, binneshuise versierder en berader sal gewoonlik uurliks of per projek betaal word en tariewe kan grootliks wissel, afhangende van opleiding en ondervinding.
  • Chauffeur of taxibestuurder kan enigiets tussen R2 000 en R12 000 en selfs meer verdien per maand.
  • ‘n Tuiskok of sjef se salaris kan begin by R3 500 en kan ervare en hoogs opgeleide sjefs kan baie groot salarisse verdien.
  • ‘n Junior Projekbestuurder verdien maklik tussen R7 500 – R15 000 per maand, terwyl ‘n senior projekbestuurder baie meer kan verdien.
  • ‘n Junior Boekhoudster kan tussen R4 500 en R7 000 per maand verdien en ‘n senior boekhoudster veel meer.

(Die salarisse hierbo is geskat en hang salarisse in die algemeen van die jare ondervinding, kwalifikasies en opleiding af.  Neem ook in ag dat ‘n tuisteskepper nie al die ure van die dag die rol van net een van bogenoemde rolle vervul nie, maar dat sy gedurende die dag verskillende rolle speel en dit opgedeel word deur die dag.  Sy kan byvoorbeeld soggens vroeg die rol van ‘n sjef speel wanneer sy ontbyt voorberei, dan die rol van ‘n taxibestuurder speel wanneer sy die kinders gaan aflaai vir skool, dan die rol van huiswerker, skoonmaker en wasgoeddame speel wanneer sy die huishouding in orde kry, later weer die rol van ‘n taxibestuurder wanneer sy die kinders by die skool gaan haal, weer later die rol van hulponderwyseres, dan sjef, berader en verpleegster).

housekeeperAnder rolle wat ‘n tuisteskepper speel, waaraan ‘n mens nie altyd dink nie, sluit in:

  • Funksie bestuurder wanneer jy jou kleuter se partytjie reël en toesig moet hou oor die spelende kinders.
  • Sekretaresse en klerk wanneer jy korrespondensie en rekeninge moet hanteer en afsprake namens jou man en kinders by die dokter of tandarts moet maak.
  • Vredebewaarder wanneer jy bakleiende kinders uitmekaar moet hou.
  • Stilis en haarkapster wanneer jy jou kinders moet help aantrek en grimeer vir ‘n skoolkonsert en moet kies watter  nuwe klere vir hulle aangekoop moet word.
  • Dissipline bestuurder wanneer jy jou moeilike tiener moet tem.
  • Gastehuisbestuurder wanneer jy familie en vriende van jou man moet onthaal en huisvesting gee wanneer hulle jou stad kom besoek.
  • Naaldwerkster wanneer jy some moet regmaak en knope moet aanwerk vir skoolbaadjies.  Navorser wanneer jy jou kind moet help met ‘n skooltaak en inligting op die internet moet soek.
  • Metgesel, minnares en vriendin vir jou man.

 

Indien Hettie onverwags te sterwe sou kom, kan Gert homself maklik in ‘n finansiële verknorsing bevind as hy skielik ‘n personeel soos ‘n huiswerker, kinderoppasser, kok of sjef, projekbestuurder en boekhoudster moet aanstel om die huishouding en kinders te behartig sodat hy steeds sy werk sal kan doen.

“Deur slegs die lewe van die broodwinner van die gesin te verseker, is sekerlik die grootste fout wat mense maak wanneer hulle lewensversekering uitneem.  Die ouer wat tuisbly is dikwels die kinderoppasser, tuissjef, ondersteunende onderwyser, huisskoonmaker, projekbestuurder, boekhoudster, taxi bestuurder en nog vele meer” sê Lenerd Louw, Hoof Uitvoerende Beampte van die direkte lewensversekeringsmaatskappy Frank.net.

“Die bydraes wat ‘n tuisteskepper tot die huishouding maak is van groot waarde en sonder ‘n finansiële veiligheidsnet wat voorsiening maak vir hul dood, sal die oorlewende gade en kinders nagelaat word sonder die middele om die lewensstyl waaraan hulle gewoond is voort te kan sit.  Die tuisteskepper se bydraes wat nou verlore is weens haar dood, ongeskiktheid of ernstige siekte, kan lei tot finansiële ontbering vir die broodwinner en die hele gesin” se Louw.

Louw plaas alles in perspektief deur te verduidelik dat dit bereken word dat ‘n tuisteskepper gemiddeld 94.4 ure “werk” elke week verrig en dat dit die gemiddelde gesin R450 000 per jaar sal kos om te betaal vir die basiese werk wat die tuisteskepper verrig.

Hy waarsku:  “Moenie gekondisioneer word deur te glo dat die waarde van ‘n individu gemeet kan word aan die inkomste wat hy of sy genereer nie.  “In ‘n gesin is die tuisteskepper net soveel ‘n bydraer as die persoon wat die geld verdien en die finansiële verliese wat in die tuisteskepper se afwesigheid gely sal word is ‘n duidelike bewys hiervan”.

“Die verlies van ‘n geliefde is nie net ‘n emosionele ontbering nie, maar gaan ook met  met massiewe finansiële stres gepaard.  In wese, is dit nodig om ‘n prys etiket op ouerskap te plaas en die waardevolle rol binne die gesinseenheid buite die konteks van emosionele bande en ondersteuning te verstaan”, verduidelik Louw.

Volgens Louw kan ‘n oorlewende gade met baie uitdagings gekonfronteer word soos om langer ure te werk om addisionele en onvoorsiene uitgawes te dek, take te verrig wat deur die tuisteskepper-gade verrig was, tyd vind om te rou en die gesin emosioneel te ondersteun en boonop die huishoudelike verantwoordelikhede oor te neem wat voorheen gedeel was.

Louw identifiseer twee belangrike vrae wat jy jouself moet vra:

  1. Indien jy jou tuisteskepper gade sou verloor, hoeveel sou dit jou kos?
  2. Indien die oorlewende gade langverlof by die werk moes neem, wat sou die finansiële implikasies wees?

“Die rol van die tuisbly ouer sal nou gevul moet word deur die oorlewende gade of ‘n ander ondersteuningspersoon en lewensversekering kan help om hierdie uitgawes te dek” noem Louw.

 

Louw beveel aan dat die volgende in ag geneem moet word:

Kinderversorging.  Die behoefte kan ontstaan om au pairs en voertuigbestuurders te huur om te help met die kinders se versorging en vervoer.  Indien jy baie jong kinders het, kan dagsorg selfs nodig wees.

Huishouding. Daaglikse take en werk wat gedoen moet word kan ekstra onkoste tot gevolg hê insluitende wasgoed en skoonmaak kostes.   Jy mag ook dalk voorheen nie ‘n huiswerker in diens gehad het nie en kan ‘n voltydse huiswerker jou tot R3 000 uit die sak jag.

Dagsorg:  Indien die broodwinner van die gesin vyf dae per week werk en baie tyd aan die reis van en na die kantoor bestee, moet al hierdie faktore ook in ag geneem word om ‘n realistiese bedrag te bereken waarvoor versekering nodig sal wees.

Hoeveel lewensdekking?

“Met die toepaslike dekkingsbedrag het jou gesin die geleentheid om hul lewenskwaliteit in stand te hou en hul toekoms te verseker.  Louw beveel aan dat die volgende in ag geneem moet word:

     Lewensstyl
     Aantal kinders
     Die werkende gade se inkomste (indien verlof nodig sou wees)
     Huishoudster/au pair/kok/sjef/voertuigbestuurder se salarisse

Om ‘n ouer, beste vriend en minnaar te verloor, is reeds moeilik genoeg, sonder om nog finansiële ontbering ook by te voeg wat dit nog baie meer pynlik kan maak, sê Louw.  “Lewensversekering sal verseker dat die oorlewende gade nie geforseer sal wees om lang ure of selfs ‘n tweede werk aan te pak om die rekeninge te betaal nie.   In plaas daarvan kan meer fokus daarop geplaas word om daar te wees vir hul gesin gedurende ‘n kritieke tyd in hul lewens.  Dit is noodsaaklik om die belangrikheid te besef om beide lede van die ouerpaar voldoende te verseker.

 

Lewensversekeringsmites:

Lenerd Louw, Hoof Uitvoerende Beampte van Frank.net lewer insig op algemene lewensversekeringsmites.

Mite 1:   Lewensversekering is nie bekostigbaar nie
Lewensversekering is vir die meeste Suid-Afrikaners baie bekostigbaar.  Dekking kan vir so min as R100 per maand verkry word, afhangende van jou individuele omstandighede.

Mite 2:  Die meeste mense het genoeg versekering.
Suid-Afrikaners is baie onderversekerd.  Ondanks die belangrikheid van lewensversekering, het slegs 12% van Suid-Afrikaners  lewensdekking en slegs 6% het een of ander vorm van inkomsteverlies beskerming

Mite 3:  Dit is altyd beter om ‘n versekeraar te gebruik wat ‘n kontant-terugbonus aanbied.
Indien jy wel besluit om hierdie opsie te gebruik, maak seker dat jy versigtig na die produkvoordele kyk.  Gaan na wat gedek word en wat nie gedek word nie.  Dit mag dalk nie die regte polis vir jou wees nie en jy mag dalk nie die dekking verkry wat jy nodig het nie.

Mite 4: Ongeluksdooddekking voorsien genoegsame dekking
Ongeluksdoodsdekking beteken jy het geen dekking vir dood as gevolg van natuurlike oorsake nie.  Dit is werklik ‘n slegte idee en is veral ‘n slegte skuif as dit  ‘n volle lewenspolis vervang.
Indien jy versekering nodig het vir ‘n potensiële motorongeluk, het jy dit ook nodig vir ‘n potensiële hartaanval.

Mite 5: Nie almal het ‘n lewensversekeringsplan nodig nie
Die teenoorgestelde is waar, almal het ‘n plan nodig.  Jy is dalk van mening dat jy goeie gesondheid geniet, maar dit beteken nie noodwendig dat jy nie lewensversekering nodig het nie.  Maar wat dan van salarisbeskerming, ernstige siekte en ongeskiktheidsdekking?

Elkeen behoort een of ander vorm van beskerming te hê.  Jy behoort jouself en indien jy ‘n gesin het, jou gesin te beskerm.  ‘n Vorm van dekking sal van groot waarde wees indien enigiets met jou sou gebeur.